Haar ma kon nie glo toe sy aan een van die 10 finalisboere in die vyfde seisoen van Boer Soek ’n Vrou geskryf het nie . . . En nou, meer as vier jaar later, staan Joha Enslin (27) en FJ de Villiers (28) eindelik op trou.

“Hy is so 'n oulike seun. Ek het gedink ek gaan die tipiese skoonma wees en hom hel gee dat hy haar nie eintlik verdien nie. Maar hy het my heeltemal oorgewen,” vertel Martie Enslin vanaf hul plaas tussen Kroonstad en Parys in die Vrystaat oor haar aanstaande skoonseun.

Joha het onderwys studeer op Potchefstroom in Noordwes en ’n pos gekry by ’n skool in Brakpan, waar sy vir die klas met outistiese kinders skoolgehou het.  

Sy onthou hoe hulle op die TV gekyk het na die kykNET-reeks omdat Joha se nefie, Francois Marx, van Kroonstad in die Vrystaat deelgeneem het.

“Ons het gepraat oor die oulike outjie van die Kaap, maar dit was te ver vir haar,” onthou Martie. Maar FJ het Joha se oog getref. “Bethal. Jy gaan vrek van die koue,” het sy haar dogter gewaarsku. FJ boer met skape, beeste en saaigewasse naby dié klein dorpie in Mpumalanga. Sy gaan vir hom skryf, het Joha daar voor die kassie aangekondig.

Haar dogter is eintlik ’n introvert, vertel Martie. “Jou kop raas. Jy sal mos nie op TV wil wees nie,” het sy nog gesê. Maar sy het dadelik begin planne maak om ’n mooi foto van Joha by haar gunstelingperd, Bokkie, te neem om die brief te vergesel.

FJ het haar gebel met ontvangs van die brief, maar dit het lank gevat voor hulle mekaar ontmoet het.

In April 2015 het Joha besluit om die man “ 'n bietjie te help” en hom na ’n troue genooi in Hennenman.

Hy “was baie dapper” en het op dieselfde dag vir haar, haar ouers en haar pa, David Enslin, ontmoet. Daarna het hulle oor en weer gekuier. Die plaas en Brakpan is per motor sowat twee uur uitmekaar. 

In Oktober het hulle amptelik begin uitgaan. Begin vanjaar het FJ ouers gevra en Martie het saam beplan aan die verlowing. Sy het Joha op 18 Maart na Stonehenge in Africa naby Parys gevat vir “ ’n piekniek” langs die rivier, waar FJ toe die jawoord gevra het.

Hulle trou op 2 Desember op ’n plaas tussen Vredefort en Viljoenskroon. Die kerk en die onthaalplek is sommer loopafstand van mekaar.

“Joha gaan al die blomme en dekor self doen,” is al wat Martie nou wil verklap. Ná die troue gaan Joha saam met FJ op die plaas bly.

“Sy het gelukkig geen illusies oor die plaaslewe nie. Sy kan self skaapvang,” vertel Martie trots. Hulle almal sien nou uit na die lekker boerebruilof wat teen die einde van die jaar op hulle wag.

Dít is hoe FJ destyds as 23-jarige deur landbou.com beskryf is:

FJ is gaande oor die boerdery en sal niks anders as ’n boer kan wees nie. Hy is ’n lewenslustige jong man wat homself elke dag ten volle op die plaas uitleef. Hy hou van visvang, motorfiets ry, draf en aktiwiteite wat die adrenalienvlakke opjaag. Hy kuier ook graag saam met sy vriende.

FJ het baie liefde om te gee en sal sy droomvrou tot in die afgrond bederf. Vir ’n romantiese afspraak sal hy ’n skemerkelkie met sonsondergang op die damwal voorsit, gevolgdeur ’n piekniek onder die maanlig. Die volmaakte einde vir so ’n aand is ’n dans onder die sterre op die maat van die natuur se geluide. 

Hy soek ’n vrou wat liefdevol is en, nes hy, ’n passie vir die lewe het. Sy moet hom bystaan in die boerdery. Hierdie vrou moet ook spontaan en ’n bok vir sports wees. Sy moet lekker kan lag en gesels.