Reg gelees. Gaste het die pasgetroude paartjie aangepor om voor hulle almal seks te hê. En iemand het boonop die hele debakel afgeneem, jillende toeskouers en al.

Dié voorval, wat onlangs in die Shaanxi-provinsie in China plaasgevind het, is glo nie die uitsondering op die reël nie. Luidens berigte word paartjies glo gereeld gedwing om “speletjies” op hul baie spesiale dag te speel.

As jy dus enigsins gesteld is op jou privaatheid en nie jou gaste deel van daardie eerste spesiale aand wil maak nie, is dit ’n goeie idee om nie in Shaanxi te trou nie. Die kans is te goed dat jou huweliksnag in ’n toeskouersport kan ontaard.

In die veelbesproke video wat opslae in die Chinese sosiale media maak, bevind die paartjie hulle in ’n bed. Die pasgetroude bruid en bruidegom ontklee onder ’n laken wat hulle bedek. Die gaste vat dadelik die klere weg wat van onder die lakens te voorskyn kom.

Eers is daar net aanmoediging vanaf die spreekwoordelike kantlyn, maar een van die gaste neem dit verder deur die bruid aan te sê om op haar man “se lyf te klim”. ’n Ander gas stoot die bruid fisiek nader aan haar bebrilde bruidegom om seker te maak daar is kontak tussen die twee.

Kort voor lank gryp een van die gaste die laken van die bed af – en daar sit die giggelende bruid poedelnaak voor die laggende groep gaste. Vir die eerste keer is daar meer as net ’n laggie van die bruidegom se kant af; hy gryp blitsvinnig die laken terug om haar te bedek.

Waarskuwing: Grafiese video kan kykers ontstel.

Bronne: sun.co.uk, campusheathq.com, theworldbeast.com