Nancy en Charlie McLean se seun, Edison, is sewe dae ná sy geboorte in sy ouers se arms oorlede. Enkele dae voor hy gesterf het, het James die ouers se laaste oomblikke saam met Edison vasgevang.

In ’n bloginskrywing op sy webwerf vertel James hy het in Januarie Nancy en Charlie se troue afgeneem. “Dit was ’n ongelooflike dag,” vertel hy. “Om hul troudag ’n viering te noem sal die reg daaraan laat geskied nie, dit was meer soos ’n trou-fees.”

Tydens die troue was Nancy sowat sewe weke weg van geboorte gee aan haar en Charlie se eersteling.

“Almal by die troue was reeds baie lief vir die baba in haar magie. Deur die loop van die dag is daar telkens na die baba verwys. Dit was pragtig,” skryf James verder.

Toe die troue verby is, het James gedink hy gaan die McLean’s nooit weer sien nie.

“Maar verlede Woensdag kry ek ’n oproep om te sê dit gaan nie te goed met Nancy en Charlie se babaseuntjie nie. Hulle het gevra of ek die rit na die Royal Randwick Vrouehospitaal sal onderneem omdat hulle vir hom totsiens moet sê.”

Ten spyte van die feit dat James reeds ’n ander fotosessie vir daardie dag geskeduleer gehad het, het hy dadelik in sy motor gespring en die lang pad Sydney toe aangepak.

Daar aangekom het James aanvanklik homself eenkant gehou en foto’s vanuit die hospitaalkamer se hoek geneem. Hy verduidelik hy wou nie inmeng nie. “Ek wou vinnig wees; ek het geweet ek moenie vra ‘hoe gaan dit’ nie, want dit is te voor die hand liggend.”

Gou het hy egter besef hierdie was geensins ’n normale geleentheid nie. Foto’s sou nooit daarin slaag om die oomblik heeltemal vas te vang nie.

“Die woorde wat almal gepraat het, was net te kragtig om nie op een of ander wyse opgeneem te word nie.” Een familielid sou byvoorbeeld vertel Edison het dieselfde ore as sy oupa. Daarom besluit James toe om eerder ’n video te maak om sulke oomblikke vas te vang.

James was vir meer as ses ure in baba Edison se hospitaalkamer saam met sy ouers en ander familielede. Edison is twee dae later oorlede.

Hy het aan ’n seldsame genetiese steuring gely wat sy dokters aanvanklik nie geïdentifiseer kon kry nie. Toe dit egter op die vierde dag duidelik word dat hy nie lank sou leef nie, het Nancy en Charlie die besluit geneem om vir James te laat kom.

James het op sy Facebook-blad geskryf “gewoonlik word ek gevra om mense se gelukkigste dae vas te vang. Maar vir sommige is hul belangrikste dae nie noodwendig die gelukkigste nie.”

Nancy en Charlie het in ’n huldeblyk aan hul seun, wat ook op James se blog gedeel is, geskryf dat hul seun al op sy vyfde dag gesukkel het om asem te haal.

“Maar ons klein vegtertjie het aanhou veg,” skryf die paartjie. “Hy het vir ons nog twee pragtige dae gegee waartydens ons geseënd genoeg was om hom vir ’n piekniek by die strand te neem.”

Edison het sy laaste 24 uur by sy ouerhuis deurgebring waar hy in hul arms oorlede is net drie ure voor hy presies ’n week oud sou word. “Dis moeilik om iets positief te sien in die verlies van ’n kind,” skryf hulle, “maar Edison het ons ’n belangrike les geleer wat ons moet deel: koester elke oomblik met jou geliefdes. Wees lief vir hulle asof dit die laaste oomblik is wat julle saam gaan hê. Moet nooit wag nie. “Ons het net sewe dae saam met ons babaseun gehad, maar ons troos onself aan die feit dat hy in daardie sewe dae net liefde geken het.”

Gaan loer hier vir nog van James se foto's van baba Edison.

– Petrus Malherbe

Bronne: Daily Mail; News.com.au.; daylight.co.au

Ook op Huisgenoot.com:

Dis nou tyd vir Sylvester die leeu om te kalmeer

Is dié een van die wreedste of oorspronklikste poetse ooit?

‘Papierman’ omskep Britse stede in bekende Disney-tonele

Ons kan heelwat by dié 4-jarige gimnas leer

Mense ‘woedend’ ná wag vuurwapen ‘per ongeluk’ laat afgaan en twee seuns beseer

Derek die kaal krimpvarkie kry sy penne terug!