[caption id="attachment_138035" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook. Foto: Facebook.[/caption]

’n Jong trokbestuurder van Touwsrivier het by oproerige studente gepleit om hul “k*k” te stop en op ’n beskaafde wyse op te tree.

“Kry net rigting in julle lewe asseblief en wees bietjie beskaafd, want julle is uit orde uit vir studente wat leer vir iets,” sê Josh Bergh in ’n video wat hy onlangs op Facebook gedeel het.

Die 27-jarige Josh gee in die video van drie minute sy mening oor die studente se optogte in kleurryke Afrikaans. Hy beskryf homself as ’n “plaaskind” van Touwsrivier en dat hy trots daarop is.

Sy video is teen Woensdagaand meer as 48 200 keer gedeel en meer as 664 000 keer gekyk.

Die voormalige visekansellier van die Universiteit van Vrystaat, Jonathan Jansen, was onder diegene wat dit gedeel het.

“Jy is opgevoed, meneer. Wysheid kom dikwels van die doodgewone burgers. Luister na hierdie jong man,” het Jonathan opgemerk.

Josh bevraagteken in sy video hoe studente kan eis dat “fees must fall” terwyl die regering geld moet uitgee om te vervang wat hulle tydens protesoptogte vernietig.

“Hoe die donner kan ons fees laat fall as jy alles vandalise wat moet gebruik word?”

Studente betoog landwyd op kampusse ná die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se aankondiging Maandag dat universiteite hul eie verhogings vir klasgeld vir 2017 kan bepaal, solank dit nie 8% oorskry nie.

Studente wie se families minder as R600 000 per jaar verdien se klasgeld sou vir die tweede jaar nie verhoog word nie.

Diegene wat nie in die kategorieë val nie, sou moes wag om te kyk op watter bedrag individuele universiteit besluit.

Waarskuwing: Die video onder bevat kru taal.