’n Emosiebelaaide video waarin ouers die hartklop van hul oorlede dogter binne die borskas hoor van ’n jong seun wat haar hart ontvang het, versprei soos ’n veldbrand aanlyn en spoor gesinne aan om te registreer as orgaanskenkers.

“Dit bring vir ons vrede om te weet dat Katelyn se hart steeds klop al is dit nie binne-in haar nie,” sê die veertienjarige se pa, Shawn Zimmerman, in ’n video van die Fox8-nuuskanaal.

Dit was kort nadat Shawn met ’n stetoskoop geluister het na die hart wat nou in die veertienjarige Albert Jefferies IV van Noord-Carolina, Amerika, se lyf klop.

Katelyn is op haar fiets doodgery deur ’n dronkbestuurder en Albert se hart het gesukkel om te werk weens vergrote kardiomiopatie. Dit het veroorsaak dat sy hart sukkel om bloed te pomp.

“Dankie vir hierdie geskenk om meer in die lewe te ervaar,” het die seun, ook bekend as Alj, in trane aan Katelyn se familie gesê. “Dankie dat julle my wonderwerk is.”

Hier is Albert saam met sy ma, Tina, en Shawn:

Orgaanskenk-groepe, soos die Oogbankstigting van Suid-Afrika, moedig dit aan dat ontvangers briewe van dank skryf, maar vra die ontvangers om nie hul identiteit te verklap nie, vertel die stigting se Sharon Munnik.

As die brief te veel persoonlike inligting oor die ontvanger bevat, redigeer hulle dit eers voor dit aan die skenker-familie gestuur word.

Die Oogbankstigting word, soos ander instansies wat met orgaanoorplanting werk, deur wetgewing van die departement van gesondheid verbied om die identiteit van die skenker bekend te maak.

Al wanneer die identiteit wel bekend gemaak kan word, is in die geval van ’n lewendige oorplanting soos ’n nier. En dan ook net as die skenker en sy of haar familie daartoe instem, verduidelik Sharon verder.

Die Zimmermans en die Turners in Amerika wou mekaar graag ontmoet. Skoenlappers en balonne is losgelaat en die families het geskenke uitgeruil.

Alj se ma, Tina, het ook ’n gediggie voorgelees om dankie te sê: “My gratitude could not be put into words. I know how much you sacrificed. To give another a brand new life.

Hy was glo enkele dae weg van sterf, onthou Tina. Alj moes vir 99 dae wag op ’n nuwe hart. “Die maand waartin Katelyn dood is, was die jaar waarin Alj weer gebore is,” het Tina bygevoeg. “Ons wil hê almal moet hierdie eenheid tussen ons sien en besef watter onbaatsugte geskenk die Zimmermans vir ons gegee het.”

Daar is na raming 4 300 Suid-Afrikaanse kinders en volwassenes wat op die oomblik wag op organe wat hul lewe kan verbeter of red. Augustus is ook Orgaanskenkingsmaand.

Besoek die Orgaanskenkersvereniging se webtuiste of bel hulle tolvry by 0800-22-66-11 om as orgaanskenker te registreer. Jy sal per pos ’n inligtingspak ontvang met ’n opvoedkundige pamflet, orgaanskenkerskaart en plakkers vir jou identiteitsdokument en rybewys.

Bronne: huffingtonpost.com, odf.org.za, wral.com, huisgenoot.com.