’n Vernietigende brand wat sedert Vrydagaand woed, is besig om tientalle huise in Imizamo Yethu in Houtbaai naby Kaapstad in puin te lê. Honderde inwoners moes al hul besittings in vlamme sien opgaan.

Luidens berigte het minstens twee mense in die brand omgekom, maar dit is nog nie amptelik bevestig nie.

Inwoners van die nabye omgewing het na bewering verskeie ontploffings gehoor wat moontlik aan gasbottels toegeskryf kan word.

Daar is Saterdagoggend begin om die vlamme vanuit die lug te probeer blus. Mense word versoek om waar moontlik klere, beddegoed, toiletware en nie-bederfbare kos te skenk ten einde diegene wat alles verloor het, behulpsaam te wees. Dit kan by Thula Thula in Houtbaai afgelewer word.