Wat sal jy doen as ’n tamaai passasierskip op jou huis afpyl?

’n Egpaar van Port Everglades, Florida, het groot geskrik toe die maatskappy Celebrity Cruises se passasierskip Equinox ’n skrale 30 m van hul huis langs die kanaal tot stilstand kom.

Yasmine Todhunter het ’n video gemaak van die skip wat op Vrydag 3 Maart nader kom.

“Dit is te naby. Nee! Te naby! Te naby,” skree ’n paniekbevange Yasmine op die agtergrond terwyl haar man, Bill, op die stoep staan en met albei arms waai.

Volgens Mail Online was die skip op pad na ’n 10 dae lange vaart om die Karibiese eilande.

Die skip met sy byna 3 000 passasiers vertrek gewoonlik vanuit die Port Everglades-hawe, vaar verby die Todhunters se huis en dan uit na die Atlantiese Oseaan.

Volgens die webblad Cruise Law News het die skip nie op sy gewone plek in die hawe vasgemeer nie omdat olie in die hawe gemors het en eers skoongemaak moes word. Die skip moes toe elders vasmeer en dus ’n ander roete volg om die hawe te verlaat.

[caption id="attachment_162953" align="aligncenter" width="600"]Bill en Yasmine Todhunter. Foto: Facebook Bill en Yasmine Todhunter. Foto: Facebook[/caption]

Bill het die video op Celebrity Cruises se Facebookblad gedeel. ’n Beampte van die blad het geantwoord en gesê die skip was deurgaans in sy aangewese kanaal en onder die leiding van gespesialiseerde hawebeamptes.

“Die skip is veilig gestuur en het geen passasiers of bemanningslede in gevaar gestel nie. Ons kan ook bevestig dat die skip nie aan die bodem geraak het nie.”

Bill het geantwoord die skip moes agteruit stoot om van die oewer weg te kom. Hy is ook oortuig daarvan dat die skip wel aan die bodem geraak het omdat die water nie diep genoeg was nie.

Sy vrou het ’n paar dae later nog ’n video geneem om te wys hoe ver skepe gewoonlik van hul huis af is wanneer hulle verbybeweeg.