Die toekomstige dokter en mamma Rolene Strauss het Dinsdag ’n foto van haar babamagie op Instagram gedeel. Daarop het sy haar blou hospitaaluitrusting aan. Sy het by die foto geskryf: “Daardie oomblik dat jy besef die jaar staan stadig maar seker einde se kant toe, want jy gaan nie meer lank in jou hospitaalklere pas nie . . . ?? #Medicine #AlmostExams #StudyStudyStudy.

A photo posted by Rolene Strauss (@rolenestrauss) on


Die beeldskone boorling van Mpumalanga, wat tans aan die Universiteit van die Vrystaat medies studeer, het voorheen aan Huisgenoot vertel hoe perfek die tydsberekening met die baba se koms vir haar en haar man, die sakeman D’Niel Strauss, is.

“Dit werk so mooi uit dat ons babatjie rondom Desember en Nuwejaar kom – net nadat my vierde jaar klaar is en voor my finale jaar begin.” D’niel woon op Stellenbosch, sowat 1 000 km van waar Rolene studeer. Tot sy volgende jaar graad vang, is ’n langafstandverhouding hul enigste opsie.


“Ons word nie wys deur die herinnering aan ons verlede nie, maar deur die verantwoordelikheid vir ons toekoms,” is van die wyse woorde wat Rolene onlangs op haar Facebook-blad gedeel het.

Sy sê ook dikwels op die sosiale media hoe geseën sy voel oor die bondeltjie vreugde wat op pad is.

“Wat ’n voorreg om ’n klein wonderwerkie te hê wat in jou groei. Ek bid vir gesondheid, wysheid en ’n leeftyd om hierdie kleinding na die beste van ons vermoë groot te maak. Ek is dankbaar om ’n een-uit-’n-miljoen spanmaat en man te hê wat hierdie pad saam met my stap.”

Rolene volg ’n gesonde leefstyl en oefen gereeld. “My baba is reeds lid van die groepie wat al douvoordag op is,” het sy onlangs by ’n foto op Instagram geskryf. “Soggens vroeg op vir oefening om die dag reg te begin.”