So het die nuus vroeër Woensdag gebreek: Emirates-passasiersvliegtuig slaan aan brand op Doebai-lughawe

Geen landingtoerusting is sigbaar nie en die vliegtuig gly skuins op die aanloopbaan tot waar dit tot stilstand kom. Een Suid-Afrikaanse burger verskyn op die passasierslys wat beskikbaar gestel is. <> Die vlieënier het luidens berigte kort voor landing ’n noodsein uitgestuur.

Die reuse-rookwolk was van ver af sigbaar.
So het die skrikwekkende vlammehel van naby gelyk.

Videomateriaal wys hoe die passasiers van die brandende vliegtuig vlug.

Volgens ’n persverklaring deur Emirates was daar 282 passasiers en 18 bemanningslede aan boord van die vlug van Trivandrum, Indië, na Doebai. Die vlug duur gewoonlik sowat drie uur.

’n Voormalige vlieënier, Sami al-Nusuf, het aan Al Arabiya gesê Emirates het hulself reeds in die verlede as bekwaam bewys om krisissituasies te beredder. Oor die spoed waarteen die passasiers ontruim is, het hy genoem dat spesiale oefensessies voortdurend deur die kajuitpersoneel bygewoon word voor hulle toegelaat word om op vlugte te vertrek. “Hulle word opgelei om passasiers binne 90 sekondes uit die vliegtuig te kry,” het hy gesê. Van die passasiers het rook ingeasem en word daarvoor behandel. Die Boeing 777-300 se dak is geheel en al deur die brand vernietig.

Emirates is die grootste lugdiens in die Midde-Ooste en onderneem weekliks meer as 3 000 vlugte na 161 bestemmings op ses vastelande.

Op verskeie sosialemediaplatforms word die lugdiens geloof vir die wyse waarop hulle die voorval hanteer het.

Bronne: bbc.com, rt.com, independent.co.uk, mirror.co.uk, english.alarabiya.net