"Blade Nzimande het versuim om 'n duidelike besluit oor studentegelde te neem en die universiteite se mag as 'n sondebok gebruik omdat die regering nie aksie neem nie," het die studente organisasie Fees Must Fall gesê. Dié organisasie dring daarop aan dat klasgelde met 0 persent verhoog word. Dr. Blade Nzimande het Maandagoggend gesê die regering beveel aan dat klasgeld nie met meer as agt persent styg nie en dat elke universiteit self moet besluit hoeveel duurder klasse volgende jaar gaan wees. "Politici het weereens weggeskram van hul verantwoordelikheid," het die politieke ontleder Theo Venter aan Huisgenoot gesê. Hy sê die mag om klasgeld te bepaal het nog altyd by universiteite gelê en dat die regering die universiteite in 'n netelige posisie geplaas het deur verlede jaar namens hulle te besluit klasgelde sal nie verhoog nie.

"Die slegte nuus is dat die universiteite nou self dié probleem moet oplos, maar die goeie nuus is dat hulle van hul onafhanklikheid terugkry." Die universiteite moenie soveel aandag gee aan klein groepe studente wat oproerig is dat hulle nie die duisende ander studente hoor nie, sê Theo ook.
"Dit was van die begin af duidelik dat daar nie genoeg geld is om gratis onderrig te bied nie." Hy sê wel dit is belangrik dat dr. Nzimande opgemerk het dat studente nie uit privaatskole en gegoede huise kan kom en dan wil betoog en aandring op gratis onderrig nie. Fees Must Fall vra onder meer dat alle studente wat nie onderrig kan bekostig nie van beurse voorsien word en dat die regering korrupsie begin teenwerk en oortollige staatsadministrasie uit die weg ruim sodat dié fondse gebruik kan word om stygings in klasgeld teen te werk.

Die organisasie Universiteite Suid-Afrika het die besluit verwelkom en gesê die voorgestelde toename is in voeling met universiteite se finansiële posisie.

Huisgenoot het met studente by die Universiteit van Kaapstad gesels: