Goeiste, wat sou die koningin gesê het?

Lank voor sy haar hoofrol in die treffer-televisiereeks Suits losgeslaan het, het prins Harry se meisie, Meghan Markle, ’n taamlik gewaagde kameerol op CW se nuwe weergawe van 90210 gehad – en ’n greep daarvan het nou opgeduik.

In die toneel raak Meghan se karakter, Wendy, vryerig met Ethan (Dustin Milligan) in ’n motor op die skool se parkeerterrein voordat Annie (Shanae Grimes-Beech) hulle uitvang.

Die greep het opgeduik kort ná die beeldskone brunet se romantiese wegbreek saam met die koninklike na Jamaika vir die troue van Harry se vriend Tom “Skippy” Inskip. Die twee het gelukkig gelyk op foto’s waar hulle saam met die gaste kuier.

Die predikant wat die plegtigheid gelei het, het gesê Harry en Meghan, wat ’n raps langer as ses maande uitgaan, het “smoorverlief” gelyk. En sy afskeidswoorde aan Harry was glo: “Jy is volgende aan die beurt, Meneer.”

Meghan het sedertdien teruggekeer na Toronto, waar Suits verfilm word, terwyl Harry terug is Londen toe om sy amptelike pligte te hervat.

- Nici de Wet

Bronne: eonline.com, dailymail.co.uk