Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Vrydagoggend buite die hof gesê dit is onbetwisbaar dat die slagoffers in die sogenaamde bylmoord veelvoudige kopwonde met 'n byl toegedien is en op die toneel gesterf het.

"Die vierde slagoffer, wat oorleef het, is ook kopwonde met 'n byl toegedien," het die NVG se Eric Ntabazalila buite die hof gesê. Hy het bevestig dat die staat hul klagte teenoor Henri van Breda (21), die beskuldigde in die saak, verfyn het en gesê hulle glo ook vas Henri het van sy eie wonde toegedien en vals inligting aan die polisie gegee.

[caption id="attachment_136337" align="aligncenter" width="450"]Henri verlaat die hof nadat sy voorverhoor uitgestel is. Foto: Misha Jordaan Henri verlaat die hof nadat sy voorverhoor uitgestel is.
Foto: Misha Jordaan[/caption]

Henri het Vrydagoggend vir die eerste dag van sy voorverhoor by die Wes-Kaapse hooggeregshof aangemeld, maar dit is uitgestel. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een aanklag van regsverydeling nadat sy ma, Teresa (56), pa, Martin (54), en broer, Rudi (22), in Januarie verlede jaar op die luukse landgoed De Zalze buite Stellenbosch vermoor is. Sy suster, Marli (17), het die aanval oorleef.

[caption id="attachment_136338" align="aligncenter" width="600"]Henri onderweg na die beskuldigde bank. Foto: Misha Jordaan Henri onderweg na die beskuldigde bank.
Foto: Misha Jordaan[/caption]

'n Bebaarde Henri, netjies geklee in 'n donkerblou baadjie met 'n grys broek en teruggekamde hare, het sonder enige familie by die hof opgedaag. Sy meisie, die student Daniellé Janse van Rensburg, was ook nie daar nie. Henri is vergesel deur sy regspan, insluitende advokaat Pieter Botha en die prokureur Lorinda van Niekerk en het stip na die regter gestaar en aandagtig geluister.

[caption id="attachment_136344" align="aligncenter" width="600"]Henri van Breda kom Vrydagoggend by die hof in Kaapstad aan. Foto: Misha Jordaan. Henri van Breda kom Vrydagoggend by die hof in Kaapstad aan.
Foto: Misha Jordaan.[/caption]

Die staat het van regter Elize Steyn versoek dat die saak tot 18 November uitgestel word sodat forensiese DNS-verslae afgehandel kan word. Henri bly uit op borgtog tot die voorverhoor op 18 November hervat word. Sy amptelike verhoor begin op 6 Februarie volgende jaar.