Die plaaslike TV-kanaal M-Net het die uitsaairegte bekom vir die eerste en glo die enigste TV-onderhoud wat die veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius gaan toestaan.

Kykers kan dié Vrydag (24 Junie) om 22:55 inskakel vir Oscar Pistorius: The Interview, wat gelyktydig op Brittanje se ITV-kanaal uitgesaai gaan word. Dit word ook om 22:55 op M-Net se susterkanaal, M-Net City (Kanaal 115 op DStv), gewys.

Die ondersoekende joernalis Mark Williams-Thomas voer die onderhoud waarin hy Oscar uitvra oor die berugte Valentynsdag in 2013 toe die lemnaeler sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het.

Die onderhoud gaan in Suid-Afrika uitgesaai word enkele oomblikke nadat dit in Brittanje klaargemaak het. “Die Oscar Pistorius-onderhoud gaan op ons skerms wys letterlik direk nadat dit op ITV geëindig het,” het Jan du Plessis, die direkteur van M-Net Kanale, in ’n verklaring op die kanaal se webtuiste gesê.

Plaaslik word dit as deel van ’n spesiale uitsending van die aktuele sake program Carte Blanche gewys. “Die Carte Blanche-span, wat die verhoor sedert die begin noukeurig gevolg het, sal bydra tot die gesprek met hul waardevolle insigte en kommentaar.” Die uitsending gaan deur ’n paneelbespreking gevolg word.

Kykers wat Vrydagaand se uitsending misloop sal dit binnekort op DStv Catch-up kan kyk terwyl SuperSport ook verdere uitsendings daarvan gaan uitsaai.

Oscar word op 6 Julie gevonnis.