Elisma de Vos

Naam: Elisma de Vos (18)

Skool: Hoërskool Wonderboom, Pretoria

Naam van metgesel: Stephan Vermeulen

Voertuig: ’n Winkeltrollie

elisma1

Waar het jy die idee gekry? Ek het dit self uitgedink. Ek wou iets doen wat niemand nog gedoen het nie.

Het jy die winkeltrollie versier? Ja. My neefs en niggies van Randfontein het my gehelp.

Wat was mense se reaksies?  Mense was verstom. Hulle het dit vreeslik geniet – veral toe Stephan vir my die trollie se deurtjie oopmaak om uit te klim.

Hoe was jou matriekafskeid? Dit was fantasties.

Wat was die hoogtepunt? Toe ek met die trollie opdaag en die mense nie kon ophou om daaroor te praat nie.

Wat beplan jy om ná skool doen? Ek gaan onderwys studeer.

Chantel van Heerden

Naam: Chantel van Heerden (18)

Skool: Marnè Ebersohn Akademie, Polokwane

Jou metgesel se naam: Barend Muller

Voertuig: ’n Kruiwa

chantel1

Waar het jy die idee gekry? Ons het gesit en wik en weeg oor waarmee ons wil gaan, want die oorspronklike reëlings het deur die mat geval. ’n Vriendin van my ma het ’n grap gemaak en gesê ons moet sommer met ’n kruiwa gaan. Ons het idees gevra vir oor die onwaarskynlikste vervoermiddel en meer as een het gereageer met die kruiwa-idee. Ons het die Dinsdag voor die matriekafskeid finaal besluit dis wat ek gaan doen, alhoewel ek nog ’n bietjie huiwerig was.

Het jy die kruiwa versier? Barend was so oulik om die kruiwa vir ons blou te verf om by ons kleurskema in te pas. Hy het selfs my naam uit staal laat maak en het “fairy lights” reg rondom die kruiwa gesit. My ouma Ina het materiaal gaan koop, kussings in die kruiwa gesit en dit met die materiaal en blommetjies versier.

Wat was mense se reaksies?  Ek het nie regtig ag geslaan op die mense se reaksie nie – ek was ’n bol senuwees – maar hulle het vir ons ’n lekker applous gegee. Ons hoof, Mariette Ebersohn, het gereageer met die woorde: “Dis nou hoe ’n hoofmeisie van ’n plaasskool by die matriekafskeid moet opdaag!”

Hoe was jou matriekafskeid? Ek het soos ’n ware prinses gevoel. Ons is bederf met ’n heerlike aand by Fusion Boutique Hotel. Ons is soos prinse en prinsesse behandel en hulle het ons op die hande gedra. Ons onderwysers het ons voorwaar bederf met ’n asemrowende aand.

Wat was die hoogtepunt?  Die nagereg! Dit was Death by Chocolate, ’n koppie gevul met sjokolade en ’n lagie sponskoek en tuisgemaakte wit sjokolade-roomys met ’n dun koekie. Dit was heerlik!

Wat beplan jy om ná skool doen? Ek gaan my onderwysdiploma verwerf.

Deur Suzaan Hauman