Jesus Christus se liggaam is ná sy kruisiging in die Heilige Graf begrawe.

En nou, ná ’n nege maande lange projek van R50,6 miljoen om die graf op te knap, is dit Woensdag ná ’n seremonie by die Heilige Grafkerk geopen.

Die restourasie het op ’n klein struktuur bokant die grafkamer, bekend as die Edikuul, gefokus. ’n Span Griekse wetenskaplikes en restourateurs het daaraan gewerk.

Die Edikuul is die heiligste monument in Christendom en volgens Bonnie Burnham van die Wêreldmonumentfonds, toesighouer oor die projek, “was daar ’n baie groot risiko van ineenstorting indien die restourasie nie nou gebeur het nie. Dit is ’n totale transformasie van die monument,” het sy aan Associated Press gesê.

Die marmerblad wat Jesus se graf bedek het, is in Oktober vir die eerste keer in 200 jaar gelig. Dit het restourasiewerkers in staat gestel om die oorspronklike rotslys te ondersoek waarop Jesus se liggaam ter ruste gelê is. ’n Venster is in die blad gesny sodat mense ’n glimp van die rotslys kan kry.

Daar is ses denominasies wat toesig oor die Grafkerk deel en die reuseprojek befonds het.

Kyk na die video onder om nog te sien:

Bronne: The Guardian, MSN, NBC, The Jerusalem Post