Australië is bekend daarvoor dat hy die tuiste is van die gevaarlikste diere ter wêreld, waaronder haaie, spinnekoppe, krokodille en slange.

En as lente aanbreek, baklei die diere onder mekaar as deel van die paringsritueel.

Lees ook: Monsterslang by Brasiliaanse bouperseel gevind

Video’s wat Australiërs opgeneem het, het aanlyn opgeduik en wys van hierdie gevegte onder slange. Met die eerste oogopslag is jy nie seker of die slange wel baklei nie, maar volgens dr. Mark Hutchinson, hoof van navorsing by die Suid-Australiese museum, vleg die slange herhaaldelik hul lyf saam en druk dit styf sodat dit asemhaling bemoeilik.

“Dit word opgevolg deur los te breek en dan (nadat hulle ’n paar asemteue geneem het) vleg hulle weer ineen. Dis ’n gedragspatroon onder die mannetjies van die meeste Australiese spesies,” het hy aan Adelaide Now gesê.

Australiërs is al so gewoond daaraan om op sulke tonele met slange af te kom dat hulle dit nou opneem en aanlyn deel.

Murray Paas van Queensland het in sy kombuis op twee luislange afgekom. Hy’t aan ABC News vertel “een van die luislange het bokant my kamer in die plafon gewoon”. Maar die luislang pla hom nie want dit hou die knaagdiere weg.

’n Huiseienaar van Noosa, Queensland het dié geveg in haar swembad in haar agterplaas opgeneem. Sy’s blykbaar gewoond aan dié soort ding en het bloot by die video geskryf: “Nie alweer nie.”

Byt my! In dié video kan jy sien hoe een slang sy tande in ’n ander slaan.