Maar dit werk nie net met bottels nie. Jamie is ook bekend daarvoor dat hy enige tyd ook vol blikkies, leë blikkies en plastiekbekers aan sy kop kan laat vaskleef. En maak maar seker waar jou selfoon is wanneer hy in die nabyheid is.

Lees ook: Hommeltuie word met arendsoë dopgehou

Dis beslis ’n truuk dié wat menige partytjiedier graag sou wou probeer, maar hulle het gewis aansienlik minder sukses.

Jamie het selfs die geselsprogramaanbieder Ellen DeGeneres verstom gelaat toe hy vir haar op sy unieke manier ’n bier skink.

“Dit kleef net aan my. My hele liggaam . . . Hulle weet nie eintlik hoekom nie,” sê Jamie.

Een dokter reken sy uitsonderlike hoë liggaamstemperatuur van 38 °C is die rede vir hierdie ongewone talent. Losweg word gereken die verskil in die temperatuur van ’n koue blikkie teen ’n warm voorwerp, in dié geval Jamie, skep ’n vakuum en die koue blikkie suig dan as’t ware vas.

Jamie het dié gawe 23 jaar gelede toevallig ontdek toe hy en vriende ’n bofbalwedstryd bywoon.

“Ek het my kop vir die eerste keer geskeer en wou dit afkoel omdat dit ’n warm dag was. Toe slaan die span ’n tuislopie en ek wou die bal vang.”

Lees ook: Ontmoet Pandora, 'n baie spesiale tarantula

Jamie het die bal mis gevang en terselfdertyd sy drankie vermis. “Almal het gelag. Die blikkie het aan my agterkop vasgesit en my drankie het uitgeloop.”

Deesdae gebruik Jamie letterlik sy kop om die geld te laat inrol. Hy verdien tot R16 000 per dag en sowat R128 000 deur sy kop “uit te huur”. Maatskappye staan ook tou om hul handelsnaam op sy blikkies te laat verskyn terwyl hy ewe ongeërg daarmee vasgesuig aan sy kop die strate invaar.

Jamie is vermoedelik al mens in Amerika met hierdie besondere talent, en sover bekend is daar net twee ander soortgelyke gevalle – albei in Indië.

Terwyl onsekerheid heers oor die oorsprong van Jamie se “blikkop”, glo Miroslaw Magola van Duitsland op sy beurt magnetiese kragte is sy talent.

Miroslaw skryf dit toe aan sy breinkrag, wat hom in staat stel om voorwerpe te manipuleer en aan hom te laat vassit.

“Ek kan swaartekrag klop omdat ek myself met energie laai en voorwerpe laat doen wat ek wil – soos ’n regte magneet.”

Die metafisika-kenner dr Ellie Crystal voer aan enige mens het die potensiaal telekineties te wees.

“Dit word geskep deur hoër vlakke van bewustheid. Dit kan nie op fisieke vlak geskep of ‘gewens’ word nie.”

In Januarie vanjaar het Jamie die grootste “blikkop” van alle tye geword. Dié rekord sal binnekort in die Guinness Book of World Records verskyn.

Miroslaw mik aansienlik hoër. Sy oë is vasgenael op die Miljoendollar Paranormale Uitdaging. Dis in 1964 tot stand gebring, maar tot vandag toe nog nie aan enigiemand toegeken nie.

Ons vermoed as hy dié gesogte prys verower, gaan sy magnetiese magte veel meer te doen hê met sy bankbalans as sy unieke vermoëns.

Bronne: metro.co.uk, insideedit.com, ctvnews.ca, Daily News, magneticman.org

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer