Brett Johnson (30), ’n duikinstrukteur, kon skaars sy oë glo toe hy op 27 Februarie ’n groep duikers op ’n onderwater-uitstappie by Snapper Reef in die Kaaimanseilande vergesel.

In die helder water van die Karibiese See kon hy duidelik ’n meter lange gryshaai sien. Dis niks vreemds nie, want dié haaie kom taamlik algemeen in die omgewing voor.

Maar Brett het besef iets skort en nadergeswem. Tot sy ontsteltenis het hy ’n sowat 30 cm lange mes in die haai se kop gewaar.

“Net toe het die haai omgedraai en reg onder my tot stilstand gekom, asof hy om hulp gevra het,” het hy aan die plaaslike TV-kanaal Cayman 27 vertel.

Brett het kalm na die haai geswem en die mes uitgetrek. Blykbaar het die haai die sowat 7 cm diepe wond oorleef, want hy is Woensdag by dieselfde rif gewaar.

Johanna Kohler, ’n leerling-haainavorser, sê haaie het uitstekende immuniteit en herstelvermoë. Sy voorspel dié een sal sommer gou-gou volkome herstel.

Vyf feite oor gryshaaie

1. Gryshaaie (nurse sharks in Engels) is sagmoedige seebewoners.

2. Hulle kan tot 4,5 m lank word en verkies die Karibiese streek se tropiese water en koraalriwwe.

3. Dié haaispesie vreet veel liewer seeslakke en klein visse as om na mense te hap. Geen noodlottige aanval deur ’n gryshaai is al ooit aangemeld nie.

4. Gryshaaie speel ’n baie belangrike rol in die behoud van die delikate mariene ekostelsel, veral naby kwesbare koraalriwwe.

5. Die Kaaimanseilande, ’n oorsese gebied van die Verenigde Koninkryk, het haaie in 2015 op hul beskermingslys geplaas; dis sedertdien streng verbode om hulle te vang.

6. Oortreders kan ’n boete van R6,5 miljoen en tot vier jaar tronkstraf opgelê word.