'n Niksvermoedende man langs 'n besige roete in Indië het oënskynlik tegniese probleme met sy motorfiets opgedoen. Hy vroetel hier, hy vroetel daar aan die enjin, maar dit lyk nie of hy veel sukses behaal nie.

'n Voetganger kom aangestap, en dan steek hy viervoet vas om die storie van naderby te bekyk. Maar in plaas daarvan dat hy sy hulp aanbied om die motorfiets weer aan die gang te kry, word sy aandag deur iets anders afgetrek. Hy stap nader en blitsvinnnig help hy homself aan die sukkelende man se beursie wat by sy broeksak uitsteek.

Die sakkeroller maak hom nie onmiddellik uit die voete na sy vermetele diefstal nie, maar trippel eers rond en bekyk die omgewing.

Dan, die skok! Hy besef daar is geslote kring-televisie wat sy opportunistiese oomblik vasgevang het. Hy plaas verleë sy hand voor sy gesig, en soos 'n stout skoolseun gooi hy die beursie naby die man neer.

Dan maak hy asof hy 'n goeie samaritaan is en wys die steeds-niksvermoedende man dat sy beursie agter hom in die pad beland het.

Die verligte man maak seker alles is nog in sy beursie voordat hy verder aan sy motorfiets timmer. En die sakkeroller? Hy staan voor die kamera en slaan sy hande saam. Dit lyk asof hy by die kamera om vergifnis pleit voordat hy verder loop.