Dis mos dan dat jy suutjies-suutjies met die kleinding bed se kant toe koers kies. Soos toe Valerie “Vivi” Sharp (61), van Huntsville, Alabama, haar kleinkind Lola in haar bababedjie wil neersit.

Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie, want ouma Vivi is betreklik kort – en die bababedjie se syreëlings betreklik hoog. Vivi hou dus ’n trappie voor die bedjie byderhand om op te staan.

Maar o wee, net toe dit lyk asof Vivi klein Lola knus in haar bedjie gaan neerlê, loop sake gruwelik skeef en kerplaks! Daar tuimel die vyf voet lange Vivi vooroor oor die reëling en beland self in die bedjie met baba en al.

Lola se ma, Nikki Bishop, het die skreeusnaakse oomblik op die babamonitor se video-opname gesien en besluit om dit op Facebook te deel. Nikki sê sy het gedink dit sou seker ’n paar mense laat lag.

Sy was verstom toe dit 90 keer gekyk is. Intussen het mense van oor die hele wêreld al saam gelag. Nou trek die video al verby 46 miljoen trefslae!

Wat het ouma Vivi oor die hele spektakel te sê? “Ek was so dankbaar dat ek haar op geen manier getref het toe ek val nie. Die ergste wat gebeur het, is dat Lola in die proses wakker geword het.” En haar reaksie toe Nikki haar vertel dat die hele episode op Facebook is? “O gaats, nou gaan almal na my agterstewe kyk!”

Bykomende bron: click2houston.com