Die lugvleuel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Woensdag bygedra tot die dramatiese einde van ’n mislukte gewapende rooftog in die noorde van Johannesburg. ’n Wilde jaagtog het na bewering vroeër die dag in Florida ontstaan nadat die polisie die gewapende rowers se planne gefnuik het. Dit het rondom 12:00 tot ’n abrupte einde gekom in Longmeadow waartydens die bestuurder van die rowers se gesteelde voertuig, ’n Mini Cooper, verskeie koeëlwonde opgedoen het. Hy het ook op die toneel beswyk.

Drie ander verdagtes is volgens berigte ook tydens die voorval beseer.

Volgens EMER-G-MED, ’n privaatambulansdiens in Gauteng, is een van die verdagtes op die toneel behandel voordat hy onder polisiebegeleiding hospitaal toe geneem is.

Twee vuurwapens is ook op die toneel gevind. Voorlopige bevindinge dui daarop dat die Mini die afgelope Sondag, 11 Desember, tydens ’n huisbraak gesteel is.
Die verdagtes sal van poging tot moord, die besit van ongelisensieërde vuurwapens en die besit van ’n gesteelde voertuig aangekla word.

Ekstra bron: timeslive.co.za