Asof dit nie genoeg was om kykers die afgelope paar dae te teister met tonele waarin Mymoena Samsodien (Jill Levenberg) al meer verswak ná ’n ernstige motorongeluk nie, moes Suidooster-kykers Maandagaand in ’n skokwending toekyk hoe Bridgette (Denise Newman) en Ian (Abduraghmaan Adams) se enigste seun, Jerome (Danny Ross), breindood verklaar word.

Jerome was immers saam met Mymoena in die verskriklike motorongeluk waarin sy so ernstig beseer is, maar hy het skynbaar ongeskonde daarvan afgekom tot hy in die snikhete van Maandagaand se episode van dié gewilde kykNET-sepie inmekaarsak.

Dit is nog onduidelik waarom Jerome se toestand so uitgedraai het, maar hy het waarskynlik inwendige beserings opgedoen na die ongeluk. Kykers het immers gesien hoe hy weier om behandel te word ná die ongeluk, want hy het geglo hy het geen beserings opgedoen behalwe vir ’n paar skrapies nie.

screen-shot-2017-03-19-at-16-39-54

Net verlede week het iemand ’n steelfoto aan Huisgenoot gestuur waarin daar ’n begrafnis vir ’n karakter gehou word. Nou kan ons nie help om te wonder of dit wel Jerome is wat in daai toneel begrawe word nie.

Intussen het kykers hulle tot die sosiale media gewend om hul ongeloof oor die skokwending in Suidooster se storielyn uit te spreek.

"Suidooster se skrywers, sê net vir my hoekom, hoekom laat gaan julle vir Jerome dood? Verduidelik asseblief aan ons hoekom! Hy maak Suidooster. Weet net sonder Jerome sal Suidooster nooit weer dieselfde wees nie," skryf een.

"My genade....baie teleurgesteld en hartseer. Hoop in die komende episodes wag ’n groot verrassing vir ons," sê-vra ’n ander.

Heelparty kykers voel ook hulle is nou sommer klaar met die sepie. "Hy was die enigste rede waarom ek Suidooster gekyk het!" laat een hoor.

"Dis ’n ramp! Wat is Suidooster sonder Jerome? Asseblief, moenie dat die masjiene afgesit word nie; laat ’n wonderwerk gebeur. Dit sal nooit weer dieselfde wees in Ruiterbosch nie. Ai, my hart is seer en dit oor Jerome. Ek weet dis net ’n karakter maar steeds: nee!"

Suidooster se vervaardigers het aan Huisgenoot gesê dat die storielyn nog besig is om te ontwikkel, maar dat kykers solank die sneesdoekies kan nader trek.

Hulle wou niks verklap oor of Mymoena gaan oorleef of nie, maar het wel gesê dat nog ’n bom of twee binne die volgende paar weke gaan bars.