Die video is Donderdag, 13 Oktober, op Police pics and clips se Facebookblad gedeel.

Die tenger slagoffer se pleidooie aan die groter seun om hom uit te los, het op dowe ore geval. Hy word rondgestamp, geklap, gevloek en geskop. Selfs nadat hy op die grond geval het. Tussendeur sê die slagoffer hy wil nie moeilikheid maak nie.

Julia Roberts: Boelies is swak

Die slagoffer het glo die afknouer gaan verklik omdat hy ’n mes skool toe geneem het.

Terwyl die afknouer die slagoffer op die grond skop, sê hy die mes was vir sy eie beskerming. Hy pluk die slagoffer regop en skree herhaaldelik op hom: “Hoekom de f*k het jy my verklik?”

Die slagoffer sê dan die afknouer het hom al tevore gedreig, maar die afknouer ontken dit. Maar dan gaan hy voort deur hom te dreig dat hy hom volgende keer in die hospitaal sal laat beland as sy slagoffer hom weer sou verklik.

Toe die afknouer wegstap, pleit die slagoffer weer by hom om hom uit te los sodat hy met sy lewe kan aangaan.

Kyk die video hier. Waarskuwing: Kru taal

Die slagoffer is luidens berigte 13 jaar oud. Sy suster het op Facebook reageer deur die voorval as afgryslik te bestempel. Sy noem ook dat haar broer nie ernstige beserings opgedoen het nie, maar dat hy wel ontsteld was ná die voorval.

Radhika Marmuthu, Malvern se polisiewoordvoerder, het gesê die slagoffer se gesin het ’n saak teen die afknouer aanhangig gemaak.

Werda Skool het sedertien 'n verklaring uitgereik.

Bronne: Facebook, highwaymail.co.za, citizen.co.za