Woedende pendelaars het Maandagaand in Kaapstad treine aan die brand gesteek en omliggende winkels geplunder.

Dit volg nadat treine Maandagaand tot ongeveer drie ure vertraag is.

’n Brandende trein staan op Kaapstad stasie na ontstoke pendelaars wet in hul eie hande geneem het

Richard Walker, streekbestuurder van Metrorail, sê die vertragings was as gevolg van defektiewe elektriese toevoer.

Hy verduidelik: “Metrorail het gewoonlik vier 11 kv-kragvoere beskikbaar sodat treine doeltreffend kan loop. Twee van die vier voere was nie gistermiddag tussen tweeuur en agtuur funksioneel nie en die oorblywende twee voere was oorlaai. Dit het veroorsaak dat die elektrisiteit uitgeklink het en treine moes tot ’n stilstand kom.”

Mismoedige pendelaars het Dinsdagoggend vertragings van ongeveer ’n uur lank verwag as gevolg van die vandalisme.

Pendelaars het die ingange van Kaapstad stasie vernietig

Agt treinwaens is vernietig en twee platforms is ná die voorval gesluit.

Pendelaars is gevra om Dinsdagoggend gebruik te maak van alternatiewe vervoer omdat al die treine in die streek vertraag sou wees.

Winkels binne Kaapstad stasie was geplunder deur woedende pendelaars

Walker meen onskuldige passasiers moet nou die las dra van Maandagaand se boosdoenery.

“Die voorval vertraag Prasa se spoorplanne aansienlik en onskuldige pendelaars sal weer die meeste ly. Pendelaars weet platformveranderings sal tot vertragings lei omdat twee platforms nou in onbruik gaan wees.”

Walker het die daad ten sterkste veroordeel.

“Ons wil aan almal wat hierdeur beïnvloed is, verskoning vra. Ons veroordeel die vernietiging van eiendom ten sterkste. Ons erken dat pendelaars geldige diensleweringbekommernisse het, maar ons kan nie kriminaliteit van enige soort verdra nie,”  het hy gesê.

Die polisie was op die toneel om die skare uitmekaar te jaag

Die polisie en veiligheidsdienste het die skare uitmekaargejaag.

Een verdagte is in verband met die voorval in hegtenis geneem.