Net na nege-uur (SA-tyd) op Dinsdagoggend, 22 Maart 2016, het bomaanvalle op die Brusselse Internasionale Lughawe die lewe van tientalle mense ingrypend verander. Altesaam 32 het gesterf en meer as 300 is beseer. Die foto van 'n verdwaasde lugwaardin het binne enkele minute dié foto geword wat die simbool van die terreuraanval geword het.

A photo posted by The Guardian (@guardian) on

Daardie lugwaardin is Nidhi Chaphekar, 'n 42-jarige ma van twee in diens van Jet Airways. Sy het Moembai op 21 Maart verlaat vir 'n vlug na Brussels. Van daar sou sy op 'n ander vliegtuig na New York diens doen en later dieselfde week na Indië terugkeer. Maar dit het nie so uitgewerk nie. Kort nadat hulle in Brussels geland het, word Nidhi en haar vlugtoesighouer, Amit Motwani, deel van die slagofferstatistiek. Amit se oog en oor is beseer; Nidhi het brandwonde oor 15 persent van haar lyf en 'n gekraakte enkel opgedoen.

Nidhi se familie was onbewus van die tragedie tot haar foto in die Indiese media verskyn het. Sy het die foto die eerste keer self gesien toe haar man dit op 16 April vir haar wys. Sy was uiters geskok, maar terselfdertyd verstom oor haar voorkoms.

Lees ook: Brussel-bloedbad - so het die wêreld daarop reageer

In 'n emosie-belaaide onderhoud met News18.com in Augustus vanjaar vertel sy ook van die "dieper storie", hoe mense ná die ontploffings geskree, geroep en geween het; ma's, kinders roepend en soekend om uit te vind of hul geliefdes oorleef het.

Woensdag het The Guardian dié video gedeel waarin Nidhi meer van haar stryd op die pad na herstel vertel. Sy dra steeds beskermende mediese handskoene as deel van haar herstel van die brandwonde. Sy wil graag na haar werk terugkeer. En sy het 'n sterk boodskap vir diegene wat weerwraak beplan.

Bronne: indianexpress.com, news18.com, thegaurdian.com