Tien jaar gelede het Marilize en Lourens Bester van Kroonstad alle moed verloor toe Marilize swanger was met hul tweede kind en in verskriklike pyn verkeer. Die swangerskap was glad nie soos haar ervaring met hul eersteling, Johan (nou 12), nie.

loukie bester

“Ek was baie siek tydens my swangerskap en op 27 weke het ek besluit om ’n aborsie te ondergaan weens die komplikasies wat met die swangerskap gepaardgegaan het,” vertel sy aan Huisgenoot.

Maar pleks van die baba aborteer, is klein Loukie Bester vroeggebore en het hy oorleef, al het hy net 780 g geweeg en was hy 29 cm lank met geboorte. Hy was 186 dae in die hospitaal se waakeenheid.

“Loukie is vandag 10 jaar oud en epilepsie en serebraal gestremdheid is by hom gediagnoseer. Hulle het vir ons gesê hy sal nooit kan sit of op sy eie loop of selfs op sy eie kan eet nie,” vertel Marilize, wat haar eie kosonderneming besit.

Dit het egter alles ’n paar maande gelede verander toe Loukie ’n operasie ondergaan om die hakskeensening te verwyder om sy linkervoet plat te kry. Dis opgevolg deur biokinetiese sessies en rehabilitasie om hom sterk te maak en sy balans te verbeter.

“Ek was verlede maand alleen by die huis met my oudste en Loukie het net uit die bloue opgestaan en op sy eie, sonder enige hulp, begin stap,” vertel ’n verheugde Marilize.

“Hy kan nou 10 tot 15 treë gee sonder om aan enigiets vas te hou en alles voel net so onwerklik en oorweldigend. Dis ongewoon om hom te sien stap en alle eer kom God toe.”

Marilize het die merkwaardige video van haar seun wat vir die eerste keer in 10 jaar loop op Facebook gedeel – ’n oomblik wat sy sê nooit beplan of te wagte was nie, maar een wat gebeur het omdat dit so bestem was.

“Ons het nog altyd dinge net een tree op ’n slag hanteer. Ons het nooit wegbreeknaweke of vakansies beplan nie omdat ons nooit geweet het wat kon gebeur nie en nou het dit gebeur.

“Ons het deur alles vir Loukie liefgehad en hy’s nooit anders behandel nie. Hy is ook uitgetrap of het ’n pak slae gekry, nes sy broer.”

Loukie se woordeskat het verbeter sedert hy in Januarie die epilepsie-medikasie gelos het en hy het sedertdien nog nie weer ’n toeval gehad nie.

Marilize sê hy sal mettertyd rekonstruktiewe chirurgie aan sy heup kry om interne prostese in te plant, maar hulle wag nog om die geld bymekaar te kry. Dit word nie deur hul mediese fonds gedek nie. Hulle wag ook vir Loukie om sterker te word.

“Ons hoop om hom eendag skool toe te stuur sodat hy saam met ander kinders kan wees. Ons is net sprakeloos en so dankbaar. Dis alles deur God se genade.”