Toe Rudi Smit en die dansers van die dansgroep Untamed in Kaapstad Maandag hul nuutste dansvideo op YouTube laai, het hulle nie geweet watter aanlyn storm op hulle wag nie.  

Die video is ná net een dag aanlyn reeds meer as 120 000 keer gekyk. Die danser van Milnerton in Kaapstad en sy dansgroep het sowat vyf weke gelede hul indrukwekkende choreografie op die maat van die Amerikaanse sangeres Meghan Trainor se liedjie Me Too uitgewerk en opgeneem.

"Die reaksie is oorweldigend," vertel Rudi aan Huisgenoot. "Ons het dit glad nie verwag nie."

Rudi en die dansers, wat meestal in hul twintigs is en van Plumstead en Parow af kom, hoop nou die video trek Meghan se aandag. Die aanlyn reaksie daarop is immers so groot dat die sangeres met treffers soos Lips are Movin' en All About that Bass wel binnekort van die video te hore kan kom. "Die eerste prys sal natuurlik wees as Meghan Suid-Afrika toe kom en 'n musiekvideo saam met ons opneem," sê Rudi. "Maar vir ons is die belangrikste hiervan dat mense die geleentheid kry om te sien hoe talentvol Suid-Afrikaanse dansers is."  

Hy sê mense gee dikwels net aandag aan top-dansers van Amerika. "Maar ons het werklik wêreldklastalent in Suid-Afrika."

Kyk Rudi en die Untamed-dansers se video hier:

Deel gerus die video en laat weet Meghan Trainor op haar Twitter-profiel of haar Facebook-blad hoe indrukwekkend dit is!

Die video sal ook teen hierdie naweek op VIA (kanaal 147 op DStv) te sien wees.