Huisgenoot het al voorheen vertel van nie-regeringsorganisasie Apopo se ongelooflike HeroRATs: Gambiese buidelrotte wat vindingryk opgelei word om landmyne uit te snuffel.

So het die merkwaardige diere, wat duidelik ’n groot swakheid vir piesangs het, al talle lewens en ledemate gered. Maar hul uitsonderlike snoete word ook teen tuberkulose ingespan.

Ons verneem nou van Apopo, wat deur Belge begin en in Tanzanië gesetel is, gaan hierdie fassinerende knaagdiere ook in Ethiopië dié siekte takel wat jaarliks honderdduisende lewens wêreldwyd eis.

Die Apopo-span het nou ’n TB-opsporingsprogram in Addis Abeba aangekondig om saam te val met Wêreldtuberkulosedag op 24 Maart.

Hul besnorde snuffelaars het reeds suid van die Sahara ’n beduidende bydrae in die stryd teen TB gemaak, maar as daar een plek is waar die rot-helde broodnodig is, is dit daar in een van die armste Afrikalande ver noord van ons. TB bly immers die dodelikste siekte in Addis Abeba, Ethiopië se hoofstad.

Derduisende mense trek jaarliks soontoe op soek na werkgeleenthede en dienste. Amper ’n derde van die land se stedelike bevolking woon reeds daar, dikwels in dig bevolkte omgewings. Dié toestande vuur die verspreiding van TB aan.

Maar die HeroRATs, wat in Mosambiek en Tanzanië reeds duisende TB-positiewe pasiënte geïdentifiseer het wat deur klinieke oorgeslaan is, kan nou die las op Addis Abeba se beperkte mediese geriewe grootliks help verlig.

’n Enkele TB-opsporingsrot kan immers 100 sputummonsters binne 20 minute nagaan – ’n taak wat ’n kliniek-laboratoriumtegnikus wat die konvensionele mikroskoop-smeertegniek gebruik ’n hele vier dae sou besig hou.

Apopo se TB-inisiatief is eintlik nog in sy kinderskoene vergeleke met hul ontmyningsrot-program. Nietemin het hulle sedert die begin van hul projek teen TB klaar die naspeurkoers by Mosambiekse en Tanzaniese klinieke met meer as 40% verhoog en potensieel meer as 80 000 verdere gevalle verhinder.

En hul oorlog teen landmyne? Die HeroRATs het nou al reeds meer as 21 miljoen vierkante meter landmynbesmette grond help ontmyn. So is meer as 105 000 landmyne en bomme (soos mortiere wat nie ontplof het nie) in ses lande vernietig. Op dié wyse het meer as 900 000 mense waardevolle grond en lewensmiddele herwin.

So gaan hulle te werk

Apopo (Anti-Persoonsmijnen Ontmijnende Product Ontwikkeling) het die buidelrotte al in die vroeë 2000’s, ná jare van navorsing en opleidingslopies, op mynvelde losgelaat.

Die buidelrotte sien swak, daarom is hul reuksin voortreflik. Daarby is hierdie groter (en gewis minsamer) wilde neefs van stadsrotte bekend as intelligente, kalm, aanpasbare en sosiale diere wat nogal lank leef, sowat agt jaar, en relatief maklik opgelei word.

Die buidelrotte word geleer om die sputummonsters van potensiële TB-lyers te besnuif. Hul opleiding behels gedragsversterking: Bepaalde gedrag, in dié geval om die regte laboratoriummonsters uit te snuffel, word beloon met iets waarvan die rotte hou, of mettertyd met die geluid van ’n klikapparaat wat hulle met beloning leer vereenselwig.

Hulle leer dus die teenwoordigheid van tuberkulose uitsnuffel in sputum (nie blote speeksel nie, maar slym uit die longe). ’n Opgeleide rot sal byvoorbeeld ’n ry van tien sputummonsters van moontlike TB-lyers gewys word. Hy sal dan drie sekondes oor ’n monster staan waarin TB aanwesig is of dit uitwys deur daaraan te krap.

Die klein supersnuffelaars is dikwels meer presies as standaard kliniektoetse vir TB. Danksy hulle het lyers wat verkeerdelik deur gewone toetse TB-vry verklaar en toe met die rot-tegniek hertoets is, betyds die nodige behandeling gekry.

Kortom, hulle is vinnig, akkuraat en goedkoop om op te lei – ideaal vir lande met beperkte hulpbronne.

Landmyne

Al is hulle groot vir rotte – met ’n lyf van tot 40 cm lank en ’n lang stert – is hulle te lig om enige landmyn af te trap. Hulle weeg minder as 2 kg, terwyl minstens 5 kg nodig is om ’n personeelmyn te aktiveer.

Apopo reken een ontmyningsrot kan 400 vierkante meter per dag skoonmaak. Vir dieselfde area sou ’n tweebeen-ontmyner, kompleet met verklikkertoestel en beskermende uitrusting, twee weke nodig hê.

Hulle word hier geleer om oor die grond te krap of orent te staan as hulle die TNT-springstof in ’n landmyn ruik. Hulle word dan met gunstelinge soos piesangs en grondbone beloon.

Hulle raak nie so gou tam en verveeld soos snuffelhonde nie en hulle is meer akkuraat, met ’n verstommende trefsyfer van meer as 99%.

Tuberkulose

Dit is die aansteeklike siekte wat die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak. Jaarliks kom sowat 10,8 miljoen nuwe gevalle voor, en ongeveer 1,8 miljoen mense sterf daaraan.

In die meeste Afrika-lande suid van die Sahara word ongelukkig net omtrent die helfte van mense met aktiewe TB gediagnoseer. En ’n enkele tuberkuloselyer wat nie behandel word nie, kan tot 15 mense per jaar aansteek.