Maar Simon het agtergekom, al herken sy pa hom nie meer nie, onthou sy pa nog baie liedjies se woorde, berig Daily Mail. Hy het verder besef dat dit sy pa help om die siekte te verwerk as hulle in Blackburn in die motor rondry en saamsing.

Simon het een van dié sangsessies opgeneem en die video op YouTube geplaas.

In die maand dat die video op YouTube is, het meer as 150 000 mense al daarna gekyk.

Hy het die video geplaas om bewusmaking te skep vir die Alzheimervereniging en sodoende £114,000 (R2 137 500) vir die liefdadigheidsorganisasie ingesamel.

In die video kan jy sien hoe Simon rondry terwyl hy saam met sy pa Engelbert Humperdinck se Quando, Quando, Quando sing.

Dié roerende video gee jou só ’n lekker gevoel in die hart omdat jy sommer kan sien hoe Simon dit geniet om saam met sy pa te sing. In ’n stadium parkeer Simon die motor. Sy pa wil-wil uitklim, maar toe die liedjie nog nie klaar is nie, maak hy die deur toe en sê “kom ons doen nog een”. Simon, met ’n groot glimlag op sy gesig, trek uit die parkeerplek uit en ry verder saam met sy pa en sing.

Een van die duisende mense wat na die video gekyk het, is ’n uitvoerende beampte van Decca Records. Hy het Ted, wat ook bekend is as die “Songaminute Man”, na sy ateljee genooi om ’n liedjie op te neem. Ted het You Make Me Feel So Young van Frank Sinatra opgeneem. Alle winste wat spruit uit dié liedjie, wat eers volgende Vrydag bekendgestel sal word, sal aan die Alzheimervereniging gegee word.

“Hierdie is ’n droom wat waar geword het. Nie net vir my pa nie, maar vir die hele familie,” het Simon aan Daily Mail gesê.

“Daar was in die laaste paar jaar ’n hele paar moeilike dae, veral vir my ma.

“Ons het laas maand vir my pa ’n 80ste verjaardag gehou. Ons het gedink dit sal die laaste keer wees dat hy vir mense sal sing. Dit is so ongelooflik om te dink hy gaan nou ’n enkelsnit uitreik.”

BRON: Daily Mail