Sy trotse pa het hom die bynaam Kang Kang gegee, wat min of meer “gesond” in Chinees beteken.

En fris en gesond is dié knaap gewis! Hy het die skaal op nie minder nie as 6,7 kg laat kreun toe hy onlangs in Xi’an, hoofstad van die Shaanxi-provinsie in die noordweste van China, gebore is.

Dis omtrent twee keer soveel as wat pasgebore seuns gemiddeld in China weeg.

Volgens ’n dokter wat Kang Kang deur ’n keisersnee in die wêreld help bring het, is dit die swaarste baba wat nog in die Daxing-hospitaal gebore is. En dis nie net sy pa (net sy van, Wang, is bekend) wat hoogs in sy noppies is nie. Daxing se mediese span was ook baie ingenome oor sy “goeie gesondheid”.

Wang het vertel sy 35-jarige vrou het weens diabetes tydens haar swangerskap met ’n eetsteuring gesukkel en was ietwat oorgewig.

Die pa, wat foto's van sy seun aanlyn gedeel en hartlik deur “jaloerse” familielede gelukgewens is, het verklap sy wederhelf se swangerskapdieet het baie kosse ryk aan growwe graan ingesluit.

En Kang Kang, teen amper 60 cm ook beduidend langer as ander pasgebore seuns, was dalk ’n raps te goed met die inneem van voedingstowwe in sy ma, het Wang voorts geskerts.

’n Plaaslike dokter het wel gemaan die tradisie plek-plek in China dat ma’s besonder baie ekstra eet in die hoop dat dit ’n groter baba sal beteken, kan bevallings benadeel.

Bronne: Xinhua News, China People's Daily,  Facebook