Talle kinders tel onder diegene wat beseer is toe die San Pablito-vuurwerkmark in Tultepec, sowat 40 km noord van Mexiko-stad in Mexiko, Dinsdag ontplof het.

Die plofslag, wat omstreeks 15:00 plaasgevind het, was so intens dat inwoners van nabygeleë dorpe die aarde onder hul voete voel bewe het.

Volgens berigte het meer as 29 mense in die ontploffing omgekom. Daar is ook meer as 70 beseer en 100 word nog vermis. Van die beseerdes het brandwonde opgedoen. Drie kinders sal na Texas in Amerika geneem word vir behandeling van ernstige brandwonde wat sowat 70 persent van hul liggaam bedek. So het angsbevange mense op vlug geslaan toe die ontploffings begin.

Tultepec, een van die bekendste dorpe waar vuurwerke verhandel word, word ook in die algemeen as een van die veiligste vuurwerkmarkte in die streek beskou. Die mark is naastenby so groot soos ’n sokkerstadium. Die dorp staan ook as die vuurwerke-hoofstad van Mexiko bekend. Volgens CNN sou die mark besonder bedrywig wees ten tyde van die ontploffing omdat mense vuurwerke vir Kersfees en Nuwejaarsvieringe gaan koop het.
Skouspelagtig en terselfdertyd grusaam -- só is die ramp deur ’n verbygaande motoris op kamera vasgelê.
Tien ambulanse en 50 paramedici is ingespan om die slagoffers by te staan.
Ook die Mexikaanse weermaglede was behulpsaam met reddding- en ontruimingsoperasies.
Reuse-rookpluime het meters hoog die lug ingeskiet.
Die rook was ook kilometers ver sigbaar.

Vuurwerkontploffings is ongelukkig nie ’n seldsame verskynsel in Mexiko nie. In 2006 het daar ook by dieselfde mark ’n ontploffing plaasgevind wat geweldige skade veroorsaak het.

Mexiko is naas Brasilië die grootste vervaardiger van vuurwerke in Latyns-Amerika. Tultepec vervaardig reeds die afgelope 200 jaar vuurwerke. Alles word van meet af aan met die hand gemaak tot by die versiering en verpakking van die vuurwerke. In 2002 was daar 46 ontploffings wat deur die vuurwerke-hoofstad geruk het. In 2011 was daar 14 ontploffings. Nog twee reuse-ontploffings in 2005 en 2006 het die handelaars se stalletjies vernietig maar geen lewensverlies is aangemeld nie. Vuurwerke is ’n baie groot industrie in Mexiko. Feeste waartydens heiliges gedenk word, sal nie sonder groot vuurwerkvertonings plaasvind nie.

Die grootste dag vir vuurwerkvertonings is wanneer die Mexikane hul Onafhanklikheidsdag vier. Met hul 200-jarige bestaansjaarvieringe is meer as 2 400 vuurwerke ingespan vir ’n skouspelagtige vertoning. Eruviel Ávila, die goewerneur van Mexiko-staat, het gesê die vervaardiging van vuurwerke sal voortgaan en dat die staat diegene sal bystaan wat hul lewensbestaan Dinsdag tydens die ontploffing verloor het.

Bronne: edition.cnn.com, rt.com, wikipedia.org, nytimes.com