Luidens berigte was daar ’n skielike kragonderbreking, gevolg deur ’n harde plofslag. En toe is daar net ’n groot sinkgat van bykans 15 m diep, sowat 27 m wyd en amper 30 m lank. Dit in die middel van wat normaalweg ’n baie besige roete in die stad is. Kyk hoe verkrummel die laaste gedeelte van die pad.

Die moltreinstelsel is ontwrig en na raming sit sowat 800 huishoudings sonder elektrisiteit. Van die inwoners moes ook ontruim word omdat stutpilare van geboue in die omgewing deur die ineenstorting blootgelê is. Die owerheid is bekommerd dat nog erosie daartoe kan bydra dat nabygeleë strukture ook ineenstort.

Intussen is modderige water besig om die gat te vul. Soos die duiwel dit wou hê, het die pad in duie gestort voor spitstyd.

In hierdie video kan gesien word hoe lamppale en verkeersligte deur die sinkgat “ingesluk” word.

’n Soortgelyke voorval het in 2014 in dieselfde stad plaasgevind, maar die sinkgat was aansienlik kleiner.

Bronne: time.com, abcnews.com, bigstory.ap.com, the-japan-news.com