Groot was Ray en Lynette McKay se skok toe ’n reuse-sinkgat onlangs in hul agterplaas in Ipswich, Australië, verskyn. Die massiewe gat, gevul met donker modderwater, het uit die niet ’n deel van hul grasperk ingesluk.

Teen Dinsdagaand was die gat al 15 m breed en grond het steeds bly wegkalwe teen ’n gevaarlike pas.

“Ons was erg geskok,” het Lynette aan The Guardian vertel. Die paartjie het hul huis in 1991 gekoop.

Volgens ingenieurs van die stadsraad is die sinkgat deur mynaktiwiteite in die omgewing veroorsaak. ’n Voorlopige ondersoek dui op ’n 100-jaar oue mynskag van 60 m diep onder die McKays se erf. “Mynaktiwiteite in die gebied het glo in 1885 begin,” vertel Lynette. “Ek het so ’n bietjie inligting bekom van iemand se pa wat in die myne gewerk het.” Die reuse-gat is nie die eerste terugslag vir die familie nie. In 2011 is hul huis ook deur vloede getref wat groot gebiede van Australië se ooskus verspoel het. Die munisipaliteit het intussen begin om die modderwater uit die gat te pomp om beter te kan bepaal wat aangaan. Die McKays bly intussen in ’n plaaslike hotel tot die situasie opgelos is.

Volgens die burgemeester van Ipswich, Paul Pisasale, bestaan geen rekord van die mynskag – wat glo tussen 1903 en 1920 gebou is – nie. Paul meen die myners moes die skag aanteken, maar omdat hulle nooit enigiets van waarde gemyn het nie, het hulle waarskynlik net daarteen besluit. ’n Soortgelyke voorval het in 2008 plaasgevind toe ’n sinkgat 14 huise in die nabygeleë Collingwood Park beskadig het. Die Australiese regering was toe genoop om die huise by die ontevrede eienaars te koop. Jim Leggate, ’n voormalige werker van die departement van mynwese, het reeds in 1989 ’n waarskuwing uitgereik dat die myne in die omgewing probleme kan veroorsaak.

“Die ingenieurswese in daardie myne was eintlik baie goed, maar deel van die gebruik was om houtstutte te gebruik,” sê Jim. En hierdie hout het natuurlik oor die jare begin vrot.

Volgens Jim het sy voormalige base sy waarskuwing geïgnoreer. En nou sit mense soos die McKays met die gebakte pere.

Bronne: The Guardian, Metro, ABC News