Saterdagaand omstreeks half nege het 'n reuse-bom, wat vermoedelik in 'n asblik verskuil was, in die kunstenaarsbuurt Chelsea in New York ontplof.

Minstens 29 mense is in die ontploffing beseer, waarvan een in 'n kritieke toestand verkeer. Angswekkende beeldmateriaal het intussen aan dit lig gekom wat die oomblik wat die bom ontplof het, vasvang.
In die video kan gesien word hoe die bom net buite 'n bouperseel ontplof. Ondersoekbeamptes het intussen bevestig die bom was waarskynlik in 'n asblik versteek. Die ontploffing het motors beskadig en talle huise in die omgewing se ruite is uitgeslaan. Beseerdes is in ambulanse na nabygeleë hospitale geneem.
Volgens SkyNews is 'n tweede bom later deur owerhede opgespoor. New York se burgemeester, Bill de Blasio, het bevestig die eerste ontploffing was beslis 'n "doelbewuste daad", maar bygevoeg dat daar nog geen bewyse was dat dit met terrorisme verbind kan word nie.
Hy het gesê daar is geen bewyse dat New York spesifiek gedreig word nie. Die tweede bom was glo in 'n drukkoker versteek en aan 'n selfoon verbind, berig CNN.

Die polisie het die area ontruim sodat owerhede dit eers deeglik kan ondersoek vir nog potensiële bedreigings. Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie.

Bronne: SkyNews, CNN, Daily Mail