Dis daardie tyd van die jaar. Die eerste twee weke van Desember. Die eerste twee weke ná die einde van November, wat gewoonlik beteken daar is al ’n paar jaareindgesellighede agter die rug.

Dit is ook vir die meeste mense die laaste twee weke van werk voor ’n welverdiende vakansie ná ’n taai jaar aanbreek.

Nee, dis nie ’n lekker tyd nie, sê die komediant Jonathan van Radio Raps.

“Jy het 10 teen een horries, want jy het 10 teen een te veel by jou jaareindgeselligheid gesuip. En jou baas probeer bliksem. Of nog erger. Jy het iets met sy vrou ge-try,” sê Jonathan, met sy kenmerkende keps skeef op sy kop.

Dan is daar die mans wat by hul vroue in die moeilikheid is.

As daar nou een ding is wat mense nie dié tyd van die jaar moet doen nie, is dit om moed te verloor “want daar is lig aan die einde van die tonnel,” sê Jonathan.

Vir al die probleme wat ’n mens in hierdie tyd ervaar, het Jonathan een stukkie raad en dit is sy nuwe fliek wat vanaand in rolprentteaters begin draai.

Die fliek gaan oor ’n amateur-komediant wat nog by sy ouers woon. Ná ’n aand van dronkenskap en sy pa se bakkie wat tweede kom, word hy uit die huis geskop en moet hy self sien kom klaar. Dan kom ’n supersexy vrou, natuurlik buite sy liga, op sy pad . . .

“Nou boys, as jy in die k** is, veral by jou vrou, vat haar op ’n date night vanaand. Gaan kyk die movie. Dit is van die lekkerste pret wat julle gaan hê sonder om gesuip te raak.

“Daardie fronsie van haar gaan soos die Springbokke se wenkultuur verdwyn.”