Die 34-jarige pa van twee is gewoonlik die statigheid self, maar Maandag het hy dit omtrent uitgekap toe hy in die vroeë ure saam met sy pelle in die Switserse Alpe uitgespan het. En dit boonop net ure voor amper al die ander senior lede van die koninklike familie ’n Gemenebesdag-diens in die Westminster-abdy bygewoon het. William se vrou, Catherine, die hertogin van Cambridge, was ook nêrens te sien by die diens nie.

William se outydse danspassies in ’n nagklub in die ski-oord Verbier het omtrent die tonge laat klap. ’n Partytjieganger het hom afgeneem terwyl hy stoksielalleen gedans het op die maat van die Amerikaanse hip-hop-duo Luniz se 1995 trefferliedjie I Got 5 On It – en dit nogal met sy hande in die lug.

En dit lyk asof hy hom gate uit geniet. Diegene wat daar was, sê hulle was geskok en kon nie glo die toekomstige koning van Engeland dans op ’n rapliedjie met lirieke oor daggarokery nie, word daar berig. Verskeie mense het glo met hul selfone Wills se “Saturday Night Fever”-danspassies afgeneem en sy koninklike beskermingsbeamptes het hulle nie gekeer nie, word daar berig. Die video het intussen soos ’n veldbrand versprei – van Amerika tot Australië en Kanada. Party dink sy danspassies is skreeusnaaks terwyl ander meen hy dans net soos ’n pa. Arme Wills!
Die prins het glo die aand om gedans en gedrink, word daar berig. Ons wonder wat die koningin en Kate van sy manewales dink!
Vroeër die dag het hy glo vir middagete biere saam met sy pelle en twee meisies, die Australiese model Sophie Taylor en haar vriendin Rosie Peate, weggeslaan. Hy is gekiek waar hy Sophie tydens die middagete by ’n restaurant vatvyf. Sophie werk by die Farinet-nagklub, waar Wills die dansvloer so lekker warm gedans het. Hy het glo tot in die vroeë oggendure daar uitgehang.
Sophie het haar aand so geniet dat sy op die Verbier Lost and Found Facebook-blad laat val het dat sy skoon haar selfoon verloor het. Haar kêrel, Aaron Goodfellow, het intussen gesê dit was alles net onskuldige pret. Hy was ook daar toe die prins drankies weggeslaan het, vertel hy. Volgens Aaron is Wills ’n “wonderlike ou” en “baie plat op die aarde”. Kate en die kinders, prins George (3) en prinses Charlotte, wat in Mei twee word, was glo tuis tydens sy naweekvakansie. Na verneem word, het hy gister reeds na Engeland teruggekeer.

’n Woordvoerder van die Kensington-paleis hou vol William en Kate was nooit van plan om die Gemenebes-diens by te woon nie. “Die hertog en hertogin was die afgelope twee jaar daar en sien uit daarna om dit weer gereeld in die toekoms te doen.” Die woordvoerder wou ook nie kommentaar lewer op William se ski-vakansie nie en het net laat weet: “Sy skedule was privaat.”

BRONNE: TMZ.COM, DAILYMAIL.CO.UK, THESUN.CO.UK