’n Rit wat veronderstel was om pure pret te wees, het in ’n dodelike nagmerrie ontaard.

’n Man, Tyler Jarrell (18) is dood en sewe is beseer toe 'n gedeelte van die Fire Ball-pretrit Woensdagaand van die hoofstellasie op die Ohio-staatskou wegbreek en talle meters verder teen die grond vasgeslinger is.

Volgens ’n omstander het een van die waentjies van die stellasie losgeruk terwyl die pretrit aan die gang was.

Drie van die sewe mense wat beseer is, verkeer in ’n kritieke toestand. Tyler was een van ’n paar wat meters deur die lug getrek het. Sy lyk het luidens berigte te lande gekom sowat 15 m van die waentjie waarin hy gesit het.

Elke waentjie het net sitplek vir vier passasiers. Die ander beseerdes is omstanders wat deur stukke van die Fire Ball getref is.

Die goewerneur van Ohio, John Kasich, het dit “die ergste tragedie in die geskiedenis van die skou” genoem en bygevoeg dit is ’n “baie, baie hartseer aand vir almal”.

Al die ritte by die skou is gesluit om nagegaan te word. Michael Vartorella, hoofinspekteur vir Ohio se afdeling vir pretrit-veiligheid het gesê die Fire Ball is herhaaldelik getoets en het Woensdag alle toetse suksesvol deurloop voor die ramp.

Wat is die Fire Ball?

Die Fire Ball pendel heen en weer terwyl sy ses waentjies terselfdertyd om die sentrale spil draai. Passasiers op die pretrit word 12 m van die middelpunt van die rit deur die lug geswaai terwyl dit 13 keer per minuut roteer.

Dit word as 'n "aggressiewe, opwindende" ervaring beskryf. Die pretrit het in 2002 vir die eerste keer in Amerika sy verskyning gemaak en het gou tot een van die gewildste in sy soort gegroei.

Bronne: Telegraph.co.uk, Huffingtonpost.co.za, Dailymail.co.uk, cnn.com