Die jaar 2016 was ’n moeilike jaar vir almal, veral te midde van die verswelging onder slegte nuus. Maar ’n video waarin ’n polisieman van Potchefstroom sing om mense aan te spoor om hul seëninge te tel, sal gewis ’n glimlag sit op die gesig van ieder en elk wat dit kyk!

Die selfgemaakte video waarin AO Dawie Williams, ’n getroude pa van ’n sesjarige dogter, in sy polisie-uniform by sy lessenaar sit en die lied Count your Blessings sing, was teen Vrydagmiddag al ver meer as 69 000 keer gekyk en 2335 keer in die sosiale media gedeel.

Hy het die video op 8 November opgelaai en binne dae het dit soos ’n veldbrand versprei.

“Ek het dit regtig net gemaak om iemand te laat glimlag!” skryf hy op sy blad.

Kyk ook: Roerende video van pa en seun wat saam sing sal jou hart breek

Die polisieman, wat ook ’n teoloog en pastoor by die Kingdom Life Centre-kerk is, het aan die webtuiste TMG Digital vertel hy was verras om oornag bekendheid met dié video te behaal.

Hy het vertel hy deel gereeld op sy Facebook-blad godsdienstige boodskappe en soms ook video’s.

Dawie vertel hy is soggens baie aktief op sy blad. Die oggend toe hy dié video gedeel het, was hy later as gewoonlik met ’n plasing en een van sy vriende het hom selfs gebel om te hoor wat aangaan.

Hy het toe homself opgeneem waar hy die gewyde liedjie sing net omdat dit vinniger is. Die beskeie polisieman het nie gedink mense “gaan so baie daarvan hou nie”.

Kyk ook: Vierjarige sing by partytjie vir haar ma wat teen kanker veg

Die aftrek was so groot dat daar nou mense is wat wil weet of hy ’n album gaan opneem.

Times Live berig Dawie is al byna ’n dekade ’n polisieman wat hoofsaaklik traumaberading aan slagoffers gee, lesings by die polisiekantoor aanbied en ander polisiebeamptes motiveer.

Dít het die spesiale video gewis vir duisende gedoen! Geniet dit!