Vier mense het Sondag in ’n breukdeel van ’n sekonde omgekom nadat ’n Porsche tussen Athene en Delfi in Griekeland teen ’n hoë snelheid in ’n stilstaande voertuig vasgejaag het.

Die noodlottige ongeluk het die lewe geëis van ’n 33-jarige vrou en haar driejarige seuntjie wat in ’n geparkeerde Honda Civic by ’n motorhawe gesit het, asook dié van die twee insittendes in die sportmotor.

Iorgos Vakakis (24), die seun van Apostolos Vakakis, ’n Griekse magnaat en eienaar van die Jumbo-winkelgroep, was blykbaar tydens die ongeluk agter die Porsche se stuur. Iorgos sou na verwagting eendag die leisels oorneem van sy pa se sakeryk, wat onder meer uit sowat 80 winkels wêreldwyd bestaan.

Luidens berigte was die Porsche ’n gehuurde motor.

 

Volgens ooggetuies was die pad nat, maar vermoedelik het Iorgos veel vinniger as die toegelate 120 km per uur gery toe hy beheer oor die sportmotor verloor.

Die motor het die geparkeerde Honda met soveel mag getref dat albei voertuie teen die gebou beland en ontplof het.

Die passasier wat saam met Iorgis gery het, is intussen as Andreas Georgakopoulos (24) geïdentifiseer. Hy is uit die motor geslinger en het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Wat die ongeluk selfs grusamer maak, is die feit dat die vrou se man (41) die ongeluk aanskou het. Hy het die motor met sy gesin daar parkeer om ’n draai te loop in die motorhawe se toilette.

Hy het gillend na die motor gehardloop om hulle te probeer red, maar dit was te laat. Sy vrou en seuntjie het in die vlamme omgekom.

Op kringtelevisiebeeldmateriaal kan gesien word hoe die man hardloop en dan verslae met sy hande op sy kop die afskuwelike toneel gadeslaan.

 

Bronne: neoskosmos.com, bloomberg.com, rt.com, lamiareport.gr