“Sodra ’n mens jou voet in die Waitomo Caves Hotel in Nieu-Seeland sit, kry jy ’n ongemaklike gevoel wat jy eenvoudig nie kan ignoreer nie.”

Dit was Sue Duminy, blogger en vrou van Protea-krieketspeler JP Duminy, se woorde ná haar en haar goeie vriendin Shireen Louw se besoek aan dié bekende bestemming wat deur die Nieu-Seelandse nuuswebtuiste stuff.co.nz bestempel word as die vierde mees spokerige hotel in die wêreld en die heel spokerigste in Kiwiland.

“Dis in 1908 gebou, blykbaar op ’n Maori-begraafplaas, en jare gelede het ’n kind daarin gesterf.

“Ons het dit nie geweet toe ons daar aankom nie, maar weens die vreemde atmosfeer het ons die plek gegoogle en vinnig besef dit spook beslis. Ons het toe pas teruggekom van ’n sewe uur lange grotekspedisie en was te moeg om die drie uur lange vlug terug na Auckland aan te pak; daarom het ons besluit om maar daar oor te slaap.

“Ons hou onsself toe baie dapper en gaan stel vyfuur die oggend ondersoek in.

“Ons kon voel hoe die temperatuur in dele van die hotel aansienlik verskil en het vreemde geluide gehoor. Daar was niemand in sig nie, maar tog het ons deure hoor klap.

“Gelukkig het ons niks gesien nie, want ons koppe sou waarskynlik die res van ons lewe geraas het!

“Ek sal nooit teruggaan soontoe nie!”

steepest street in the world or a skew house?....?

A post shared by Sue Duminy (@sueduminy) on

Sue en Shireen reis tans deur Nieu-Seeland in ’n kampeerwa met die doel om daaroor te skryf vir die reisafdeling van hul blog.