Jy gaan spook om Mthetheleli Gxoyiya te vang waar hy nie sing nie. Die 28-jarige petroljoggie sing wanneer hy stap, in die taxi sit en wanneer hy motors se voorruit skoonmaak.

[caption id="attachment_134273" align="alignnone" width="600"]Skermgreep: YouTube, News24Video Skermgreep: YouTube, News24Video[/caption]

So het hy al singende die hart van duisende motoriste gesteel wat by die Total-petrolstasie op Cradock in die Oos-Kaap stilhou. “Iets binne my sê: ‘Hou aan met sing, sing harder,’ ” sê Mthetheleli.

Die pa van een het talle mense se hart laat vermurwe sedert ’n video van hom wat in sy rooi uniform opera sing op die internet gedeel is nadat ’n motoris hom verfilm het.

“Ek sing vir die klante wanneer ek lug in hul motorbande pomp, wanneer ek hul petroltenk volmaak, water in hul enjin gooi en hul voorruit was. Ek dink hulle geniet dit. Hulle gee my ’n R5-footjie en ’n ekstra R20 vir die sang.”

Mthetheleli, wat daarvan droom om ’n beroepsoperasanger te word, is in 1988 op Cradock gebore.

Eerste solo

Toe hy in gr. 8 was, het sy neef Lonwabo besef hy kan sing. “Hy was die dirigent van die koor by ons kerk, die Apostoliese Kerk. Ons het vir ’n kerkbyeenkoms repeteer en hy’t my gevra om in al die tenoordele van die liedjie alleen te sing,” vertel hy. “Ek het later saam met my broer begin gospel sing en Lonwabo het gesê ek hoort nie daar nie; ek hoort in kore en by operamusiek.”

Mthetheleli is in 2006 terug na Cradock en het gr.10 by die Hoërskool JA Calata voltooi. “’n Onderwyser het gehoor ek kan sing en ek is in 2007 gevra om ’n operakomposisie van Mozart se Towerfluit te sing.”

Studie laat vaar

Hy het toe besef hy het talent en het sedertdien nooit opgehou sing nie. Hoewel sy musiektalent duidelik was, het Mthetheleli gr.10 en 12 gedruip. “Ek was goed in wiskunde, maar ongelukkig het ek gesukkel met my ander vakke.”

Nadat hy matriek gedruip het, het Mthetheleli tot in 2012 by die huis gesit, waarna hy op Queenstown ’n graad in elektriese ingenieurswese probeer behaal het. Hy het later sy studie laat vaar omdat hy sy dogter (toe een jaar oud) moes onderhou. “Ek het teruggekeer huis toe en as petroljoggie werk gekry by die Shell-motorhawe waar my pa gewerk het, maar dit was nie ’n permanente werk nie. In Oktober 2013, op dieselfde dag dat ek my rybewys gekry het, het ek ’n oproep gekry dat Total ’n petroljoggie benodig.” Hy werk sedertdien daar.

Wil terugploeg in gemeenskap

“Ek kan nie kla nie; alles is oukei. Die lang ure is uitputtend. Ek werk skofte van 07:00 tot 19:00.” Sy weeklikse salaris hang af van hoeveel dae hy werk. Hy verdien R1 300 vir vyf werkdae. Mthetheleli se droom is om ’n operasanger te word en terug te ploeg in sy gemeenskap. “Ek wil kinders in my gemeenskap van opera leer, want op die platteland ken hulle net kwaito, hip-hop en house. Hulle vergeet van klassieke musiek.”

In sy vrye tyd help hy laerskole om vir koorkompetisies voor te berei. En hou hy ooit op met sing? “Dit gebeur baie weinig.”

Gewild onder motoriste

“Ek sing die meeste van die tyd. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie sing nie. Soms sing ek wanneer ek wakker skrik en voor ek gaan slaap. Dis terapeuties en maak my rustig. Ek sing wanneer ek gelukkig en wanneer ek hartseer is.”

Altus Theron, sy baas en die eienaar van die Total-motorhawe, sê Mthetheleli is ’n wonderlike, uiters talentvolle man. Hy was oorweldig toe hy Mthetheleli drie jaar gelede hoor sing. “Die ander petroljoggies sing saam, maar hulle is nie so goed soos hy nie.”

Altus hoop iemand in die bedryf sal vir Mthetheleli ’n platekontrak aanbied. “Die motoriste is mal oor hom. Van die klante stop by die motorhawe en vra of hulle hom kan verfilm. Hulle vra selfs na hom wanneer hy nie by die werk is nie, maar ongelukkig kan hy nie sewe dae per week werk nie.”

Bron: News24