Sowat twee maande gelede het die gewilde sanger Pieter Koen omtrent ’n opskudding veroorsaak met sy aansteeklike enkelsnit Boobs, Boude, Bene wat baie goed deur sy aanhangers ontvang is.

Trouens, die ietwat omstrede musiekvideo daarvoor is al deur meer as 46 000 mense gekyk.

In totale teenstelling met daardie tong-in-die-kies-treffer, het Pieter pas die musiekvideo uitgereik vir sy roerende snit, ’n Man Kan Ook Huil.

Die video gaan oor ’n man en vrou wie se kind ernstig siek is. "Hulle sukkel finansieel, maar besef op die ou end geld is nie belangrik nie; die liefde en steun by die huis is wel," vertel Cindy Swanepoel, wat teenoor Hykie Berg in die video verskyn.

Pieter se seun Jayden (8) verskyn as Hykie en Cindy se siek kind in die video.

Die video is onlangs in Mooikoof, Pretoria, geskiet. ’n Man Kan Ook Huil, Boobs, Boude en Bene en tien ander treffers word ingesluit op Pieter se nuwe album, Kan Nie Vra Vir Meer, wat nou beskikbaar is.

Kyk hier na die video vir ’n Man Kan Ook Huil: