Berigte dui daarop dat die voorval omstreeks 19:00 plaasgevind het. Sover bekend is niemand tydens die voorval dood nie.

Volgens Jacaranda FM is 86 van die beseerdes vir ligte beserings behandel.

Tien pasiënte met ernstiger beserings is na die George Mukhari-hospitaal buite Pretoria geneem.

  Die treine kan elkeen van 1 500 tot 1 800 passasiers tydens spitstyd vervoer. “Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar twee treine het reg van voor teen mekaar gebots,” het Lillian Mofokeng, woorvoerder vir MetroRail gesê.

  Sommige berigte dui aan dat die een trein vanaf De Wildt en die ander een van Pretoria gekom het. Beide treine was op dieselfde spoor.

Hoewel een van die twee spoorlyne wat deur die botsing beskadig is, weer oopgestel is, word daar vertragings van sowat 40 minute verwag. Treindienste tussen Rosslyn en De Wildt is voorlopig opgeskort.

Busse is ook intussen beskikbaar gestel vir pendelaars.