Dean Grant (25) het die video geneem waar die seekoei uit die bosse aangestap kom en ’n leeu agter op sy rug vasklou. Een van die besoekers kon nie betyds met hul voertuig padgee nie. Die seekoei het wild gehap na die buffer en neus van die voertuig. Dit is nie duidelik of daar wel skade aangerig is nie.

"Ons het die insident vroegoggend gesien. Ons het in die wildtuin binnegery vanaf Mjejane toe die hekke oopgemaak het.

"Ons het besluit om wes langs die rivier se oewer te ry," sê Dean.

"Ons het gehoop om katte te sien omdat ons dit nog nie van ons lysie afgemerk het nie."

Min het Dean en sy gesin geweet wat op hulle wag.

"Ons het glad nie verwag om ’n trop van agt wyfie leeus saam met ’n paar welpies te sien hul prooi jag nie.

"Ons het opgewonde geraak oor die leeus maar ook begin hartseer voel vir die arme seekoei wat nie ’n kans gehad het nie," sê hy.

Dean sê hulle het later die middag weer terug gegaan na die plek waar die aanval gebeur het en gesien hoe die leeus lui uitspan na hulle groot ete.