Dis moontlik ’n mens se ergste nagmerrie om tuis te kom en te besef inbrekers het jou huis rot en kaal besteel.

Maar miskien nog meer angswekkend is wanneer jy die inbreker halfkaal in jou bed aantref, vas aan die slaap.

Hierdie vreemde verskynsel het nie net destyds die drie beertjies oorgekom toe hulle tuiskom en ’n vreemde meisie in een van hul beddens aantref nie, want ’n Australiese egpaar het die bekende sprokie Goue Lokkies onlangs self beleef.

Nadat hulle uitstedig was, het Tony en Mel Christensen verlede Donderdagoggend teruggekeer na hul huis in Melbourne en ’n onbekende man, van Oosterse afkoms, sonder ’n hemp in hul bed aangetref.

Lees ook: Sharon Osbourne het Ozzy TWEE keer met kinderoppassers in die bed gevang

Mel het aan die Daily Mail van Australië vertel die oortreder het homself baie gemaklik gemaak.

Eers het hy gebad, die lugreëling aangeskakel en hul bed na die woonkamer gesleep waar hy reguit droomland toe is.

Lees ook: Dié twee kwajongens voer kattekwaad aanvang tot nuwe hoogtes!

Hy was baie verward toe die Christensen-egpaar hom wakker maak en Tony foto’s van hom neem. In ’n poging om hulle die skrik op die lyf te jaag, het hy gesê van sy makkers is elders in die huis. Maar toe Tony ondersoek instel, het die man uit die bed gespring en spore gemaak.

Niemand is beseer nie en niks is gesteel nie, berig die Daily Mail. Die polisie het die jong man kort daarna aangekeer en weens betreding aangekla.

Kyk hier na 'n video van die voorval: