Lynda Felicione en haar man, Vinny, het gaan braai by hul dogter en dié se man in West Babylon, New York, toe hulle op ’n skattejag gestuur is. Hulle moes die huis deursoek, gehelp met leidrade van “warm” of “koud”.

Maar die 65-jarige Lynda was verbaas om te vind al die laaie en kaste waardeur sy soek, was dolleeg.

Eindelik sê hulle vir haar sy is “baie warm” toe sy die oonddeur oopmaak en ’n broodrolletjie daar vind.

Die “broodjie in die oond” (vir die Engelse gesegde “a bun in the oven”) het almal in die vertrek laat snap dat Lynda se dogter Michele swanger is – almal behalwe Lynda! 

Toe sy die woorde “broodjie in die oond” oor en oor herhaal, het die betekenis eindelik tot Lynda deurgedring. Sy wou al jare lank bitter graag ’n ouma word en sy het byna flou geval van vreugde. “Dit is die heel beste geskenk in my lewe,” het sy uitgeroep.

Diè ouma is oorstelp met vreugde. Foto: Magazine Features

Michele, ’n sersant in die New Yorkse polisiediens, vertel: “Ons het vir my ma en stiefpa gesê die hele familie gaan ’n speletjie speel en hulle is eerste aan die beurt.

“My ma het glad nie geweet wat om te verwag nie, en toe sy die broodrolletjie kry, het sy net gedink sy het vir Vinny geklop en die rolletjie gewen.

“Ek het verwag sy sou die verband dadelik snap, maar dit was skreeusnaaks toe ons almal dit aanhoudend moes herhaal en selfs gebare moes gebruik.

“Ek het in een stadium werklik gedink sy sou dit nooit snap nie, maar toe dit tot haar deurdring, het die laggery in ’n huilery verander, want haar reaksie was so oorweldigend.

“Ek dink sy wou haarself aanvanklik nie toelaat om die betekenis van die ‘broodjie in die oond’ te glo nie, want ons het al vantevore soveel hartseer ondervind.”

Ná ’n pynvolle ses jaar van probeer om swanger te raak en ’n klomp terugslae, het die 41-jarige Michele berus by die gedagte dat sy nooit ’n ma sou word nie. 

Michele het kunsmatige bevrugting ondergaan as laaste uitweg.

Die behandeling het geslaag en Michelle het enkele weke later swanger geraak met ’n tweeling.

Michele het vertel: “Die afgelope ses jaar of so was ongelooflik moeilik vir my en my maat, ons het soveel hartseer deurgemaak en het feitlik al die gedagte aanvaar dat ons nooit sou ouers word nie. Maar ek was, deur die een of ander wonderwerk, gelukkig genoeg om swanger te raak met nie net een nie maar twee babas."

“My ma het altyd vertel hoe graag sy ’n ouma wou word, maar ná alles wat ek deurgemaak het, het sy aanvaar dat dit nie sou gebeur nie.

“Dis waarom ons die aankondiging vir haar spesiaal wou maak. Julle kan sien hoe baie dit vir haar beteken. Ek huil nou nog steeds wanneer ek daarna kyk.”