Stel jou dit voor: dis bloedig warm en al wat jy wil doen, is om die teerpad veilig oor te steek.

Jy kan dalk daarin slaag, maar jou skoene nie. Die versengende hitte in Indië verander teerpaaie nou in taai monsters wat die een skoen ná die ander van niksvermoedende voetgangers se voete “steel”.

Sommige kry dit reg om op een of ander manier wel met albei voete gesool aan die ander kant van die pad uit te kom terwyl ander moed opgee en hul plakkies net daar laat.

Kan jy jou indink hoe ’n mens se voete brand?

Die hittegolf het op Vrydag 20 Mei die kwik tot ’n rekord van 51 °C laat styg. Dit is die hoogste temperatuur wat tot nog toe in Indië gemeet is. Die stad Phalodi, aan die westekant van Rajastan, is die houer van dié onbenydenswaardige rekord.

Die vorige hoogste temperatuur wat gemeet is, was 50 jaar gelede in die stad Alwar in dieselfde streek – ’n stomende 50,6 °C in 1956.

Dagblaaie landwyd berig oor honderde mense wat reeds aan hitteuitputting beswyk het. Nog ’n nadraai is die groot toename in selfdood onder boere wie se oeste deur die hitte vernietig is. Tot dusver bekend het 36 boere die afgelope week hul eie lewe geneem.

Volgens die Indian Express het 454 boere die afgelope vier en ’n half maande hul eie lewe geneem, en oor die afgelope 16 maande het die getal tot 1 548 gestyg.

Hongersnood vier hoogty in afgeleë gebiede as gevolg van gebrekkige oeste.

Dié video wat feitlik op twee dae na ’n jaar gelede opgelaai is, wys hoe die teerstrate in die land letterlik smelt. Tydens hierdie hittegolf het meer as 2 000 mense gesterf.

Bronne: independent.co.uk, sbs.com.au

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Bedwelmde’ skape maak amok op rustige Walliese dorpie

Ouers se agt jaar lange stryd met Binnelandse Sake oor hul kind se identiteit

Marco Spaumer verklap wat deur Tim se kop gegaan het tydens daai skokkende Suidooster-oomblik

Die folky Majozi eersdaags op die Liefde by die Dam-verhoog

Omgekrapte vrou vermorsel peperduur Jaguar met haar peperduur Range Rover

Kyk net wat gebeur as vier mans hoëhakskoene ’n dag lank dra!