Kaapstad se direkteur van veiligheid en sekuriteit, Richard Bosman, sê Victoria- en Hoofweg is gesluit weens rommel wat deur betogende gemeenskapslede aan die brand gesteek is.

Die busdiens MyCiTi het in n twiet gesê roete 108, wat van Hangberg na Adderleystraat loop, en roete 109, wat van Imizamo Yethu na die middestad loop, is opgeskort.

Dit is onduidelik of ’n vergadering tussen die departement van behuising en die Imizamo Yethu-bestuurskomitee wat vir Maandagoggend 10:00 gereël is, steeds sou voortgaan. 

Protesaksie in die gebied het Saterdag begin toe gemeenskapslede strukture oprig wat die verkeer in paaie versper het.

In Maart het ’n reuse-brand deur Imizamo Yethu gewoed, honderde blyplekke vernietig en duisende inwoners haweloos gelaat.

Bosman het voorheen aan News24 gesê die betoging gaan oor ’n gebrek aan elektrisiteit en behoorlike formele behuising in Imizamo Yethu, wat die burgemeester Patricia de Lille glo beloof het aan die mense wat in die verwoestende brand ’n paar maande gelede ontheem is.

Betogers beweer hulle is beter behuising binne drie maande ná die brand beloof.


Die ontheemdes bly tans in ’n tussentydse behuisingsgebied op Houtbaai se sportveld.

Bron: news24.com