Die Sabierivier in die Krugerwildtuin het die naweek sy walle oorstroom en talle paaie en brûe weggespoel toe ’n damwal bars.

Die H1/2-pad tussen Tshokwane en Skukuza is steeds gesluit omdat die brug tussen dié twee kampe weggespoel het. "Let asseblief daarop hierdie pad sal vir minstens twee weke gesluit wees tot ’n alternatiewe roete geskep word," het William Mabasa, Sanparke se hoof van kommunikasie, in ’n verklaring gesê. Die enigste roete na Satara is nou oor ’n laagwaterbrug by Onder-Sabie. Dié brug is egter nog onder water, maar sal na verwagting binnekort oopgestel word. Die skade aan die paaie in die wildtuin is aangerig toe ’n dam in die Sabierivier Saterdagaand gebars het en ’n groot hoeveelheid water stroomaf gespoel is.

Die Krugerwildtuin is steeds oop vir besoekers.