In die spitsvondige rolprent Lars and the Real Girl het die man in die titelrol op ’n lewensgrootte-pop “verlief” geraak. Die fliek gee ’n deernisvolle blik op mans wat in die arms van ’n silikoonvrou liefde vind. Bitter min mense verstaan hierdie geneentheid tot ’n pop, maar Li Chen het sewe van hierdie poppe, wat meestal vir seks gebruik word.

“ ’n Man in China het agt kinders, maar net een is werklik.” Dis die inleiding tot die storie in die Britse poniekoerant Metro.

Chen (58) het sy eerste pop in 2014 gekoop as teenvoeter vir sy eensaamheid nadat hy sy vrou 16 jaar gelede weens haar dobbelverslawing die deur gewys het.

“Hulle is soos my dogters,” vertel Chen. “Ek gebruik hulle nie vir seks nie. Ek versorg hulle en trek hulle aan. Ek neem hulle ook met vakansie en maak vir hulle musiekvideo’s.”

Elke pop kos minstens R19 000. Sy eerste pop se naam was Xiao Xue. Dit beteken Little Snow. Hy het haar gekoop in 2004, toe sy vrou weg is en toe seun, Yang Yang (toe vyf), in die Guizhou-provinsie begin skoolgaan het.

In ’n onderhoud met Pear Video het Chen vertel: “Wanneer ek bestuur, sit ek haar (Little Snow) soms in die voorste sitplek. Ek wil hê dit moet voel of ek ’n metgesel het.”

Dan moet Yang hom maar tussen die poppe op die agsterste sitplek inwurm. “Ek gee nie om nie. Hulle is soos my sussies,” vertel die seun.

[caption id="attachment_159612" align="alignnone" width="600"]Chen se enigste seun speel graag met die poppe. Foto: Pear Chen se enigste seun speel graag met die poppe. Skermgreep: Pear[/caption]

Toe Yang onlangs 18 word, het Chen hom ’n silikoonmeisie vir sy “biologiese behoeftes” present gegee. Sy het nog nie ’n naam nie.

Die pa verduidelik: “Ek wil hê hy moet die pop gebruik pleks daarvan dat hy weens ’n glipsie ’n siekte optel. Toe ek hom touwys gemaak het oor seks, het ek hom geleer hoe belangrik dit is om veilig te wees.”

Chen het na raming al sowat R188 467,56 uitgegee aan tabberds vir sy sewe stomme metgeselle. Twee pamperlang en pas hy vir ’n vriend op. Hy beplan om ’n onderneming op die been te bring wat klere vir hierdie poppe sal vervaardig.

[caption id="attachment_159606" align="alignnone" width="600"]Foto: Pear Skermgreep: Pear[/caption]

Hy is nie pervers nie, gooi Chen wal. “Hierdie poppe is pragtig. Hulle is ’n kombinasie van die beste gelaatstrekke van verskeie vroue. Ek waardeer net hul skoonheid.”

Sarah Valverde van Kalifornië skryf in haar M-verhandeling, The Modern Sex Doll-Owner: A Descriptive Analysis, hierdie obsessie met sekspoppe neem die afgelope 10 jaar ál meer toe.

Sielkundiges het nie veel begrip hiervoor nie, het sy bevind. Die psigiatriese beskrywing wat die naaste hieraan kom, agalmatofilie of statuefilie, ’n skaars seksuele aantrekkingskrag tot standbeelde. Sarah kon nie met klaarheid bevind dat dit enige skade berokken nie. Dis “aanvullend tot mense se sekslewe”.

Bronne: metro.co.uk, .dailymail.co.uk, technology.inquirer.net, thesun.co.uk, mashable.com, thesundaily.my